LOUIS TRICHARDT – Vroeër vanjaar, op 20 Maart, het Laerskool Louis Trichardt ‘n kaskarwedren aangebied as fondsinsamelingsgeleentheid vir die skool.
Die gr. 3X-klas het die wedren gewen en hulle prys was ‘n naweek weg by die ATKV-Eiland Spa naby Tzaneen.
Omdat die vakansieoord se glybane buite werking was tydens die beplande naweek, het die skool besluit die klas kon twee skooldae misloop om vir twee dae lank in die week by die oord te gaan baljaar.
Die leerders was vroeg verlede Woensdagoggend gereed om te vertrek van die skool af, hul sakke gepak en gereed vir die mini-vakansie wat op hulle gewag het.
Onderwysers Sussah Ehlers en Sanrie van Niekerk het ‘n ogie oor die leerders gehou en seker gemaak dat niemand van die groep af-dwaal nie. Hulle het van die oord se wandelroetes saam met die leerders verken en later aan Review vertel dat hulle baie diere gesien het.
Volgens Ehlers het die personeel van die oord uit hulle pad gegaan om die ervaring so aangenaam as moontlik vir die leerders te maak.
Verlede Donderdagoggend het die son skaars sy kop uitgesteek voordat die leerders weer in die oord se swembaddens baljaar het.
Die oggend het te vinnig verbygegaan en die leerders het na middagete byna op die grond gehang toe hulle huiswaarts moes keer.
In Louis Trichardt aangekom, kon die leerders nie wag om al die stories oor hulle avonture by die ATKV-Eiland Spa met hulle ouers en maats te deel nie.



