POLOKWANE – Verlede Donderdag het die gr. 7’s van Laerskool Pietersburg-Oos amptelik afskeid geneem van hul laerskoolloopbane tydens die skool se jaarlikse vlerkdans.
Die vlerkdans word so genoem omdat die leerders aan die einde van die jaar hul vlerke moet sprei en die hoërskoollewe volgende jaar moet aandurf.
Die tema van die dans was Meksiko en die gr. 6-leiers het baie moeite gedoen om volgens die tema aan te trek en Meksikaanse eet- en drinkgoed voor te sit.
Vir die gr. 7’s was die vlerkdans ‘n bittersoet ervaring. “Dit is hartseer om te dink dis ons laaste kuier as Osies, maar ons sien uit na die toekoms,” het André Snyman gesê.
Die leerders het pragtig gelyk in skemerkelkrokke en pakke met strikdasse en selfs kruisbande.



