NewsSchools

Klein mensies gaan groot skool toe

Review gesels met 'n paar kinders wat volgende jaar die lewe in gr. R sal aandurf en vra hoe hulle oor hierdie groot stap voel en wat hulle eendag wil word.

POLOKWANE – Om vir die eerste keer in jou gr. R-klas in te stap is ‘n baie belangrike dag in enige kind se lewe. Nou begin jou skoolloopbaan.

Gr. R-leerders kry vir die eerste keer huiswerk en begin om die basiese beginsels van lees en skryf te leer.

Review gesels met ‘n paar kinders wat volgende jaar die lewe in gr. R sal aandurf en vra hoe hulle oor hierdie groot stap voel en wat hulle eendag wil word.

Jamie-Lynn Kelly is vyf jaar oud en in Werk en Wen Kleuterskool. Sy sien daarna uit om by die “grootskool” aan te sluit. Sy sê haar ouma is ook by die skool waarheen sy gaan, maar sy sal haar nie baie sien nie, want sy sal besig wees in haar klas. Haar skoolklere is kant en klaar gekoop en sy wil eendag ‘n “tannie” wees.

Lethlabile Tswaane is in Mitchell House. Sy huidige juffrou is nie baie streng nie, maar hy weet nie wie volgende jaar sy onderwyser gaan wees nie.

Hy gaan volgende in gr. R wees en kan al fluks somme maak.

Kayla Lacanté weet sy gaan huiswerk doen en dit gaan lekker wees in gr. R. Sy sê sy gaan ook somme doen en sy kan al al haar naam skryf.

Haar maatjie gaan ook gr. R toe en sy is bly daaroor, maar eers gaan hulle vakansie hou.

Werner Maree sê hy gaan leer van nommers. Hy sê hy kan al ‘n bietjie skryf ook en gaan leer lees in gr. R.

Anrich Venter weet nie mooi wat hy alles gaan leer in gr. R nie, maar hy het al sy skoolklere gekoop en hy gaan hokkie en rugby speel in die “grootskool”. Hy weet nog nie wat hy wil doen na skool nie, maar wil verder gaan leer.

Clarise Coulson se pennesakkie is klaar gekoop vir gr.R. Haar ma gaan party goed koop wat daar moet inkom en Kersvader gaan die pennesakkie verder volmaak.

Sy weet sy gaan huiswerk “en ander goed” doen in gr. R en sy moet dit self doen.

Sy en haar gesin gaan eers by haar tannie Michelle en haar nefie kuier. Hulle bly “net so ‘n bietjie ver.” Kersfees gaan hulle by haar oupa en ouma by die see deurbrig. Sy sê daar gaan nie haaie wees nie want daar is nette, maar sy gaan net aan die vlak kant van die see swem.

Leandré Coetzee se hond het onlangs kleintjies gekry. Sy wys hoe groot hulle is en sê hulle ma is vreeslik groot, haar naam is Staffie.

Leandré gaan by haar ouma en oupa kuier en hulle gaan see toe. Sy is bang vir die haaie maar vertel dat jy hulle kan sien aankom. “As jy hulle punt sien is hulle naby, maar as jy die haai se punt sien en dis klein, is hy nog ver,” verduidelik sy.

Demi Lee Joubert is ook in Mitchell House. Sy weet hulle gaan huiswerk kry in gr. R en sien uit daarna om koekies te eet op Kersdag.

Talya Chetty is ook op pad na gr. R volgende jaar. Sy weet nie mooi wat sy alles gaan leer en doen volgende jaar nie maar sien uit daarna.

Khumo Mankoe weet nie mooi wat sy in gr. R gaan doen nie, maar sê haar juffrou sal haar met haar huiswerk help. Khumo gaan by haar ouma se huis kuier en ‘n groot ster koop om op die Kersboom te sit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button