POLOKWANE – Na vele fondsinsamelingsprojekte, vergaderings en baie harde werk sal Akademie Reformia amptelik na hulle nuwe perseel in Akademiestraat, langs Veldspaatstraat, verhuis in Januarie.
Dié nuwe perseel is reeds die afgelope 17 jaar ‘n doelwit vir die skool se beheerliggaam en skoolhoof, Marietha Nel.
“Ons is klaar besig om nog verder te bou en ontwikkel op die nuwe terrein en teen 19 Januarie, wanneer Akademie Reformia se skooljaar weer begin, sal daar ‘n nuwe hoofstuk in die skool se geskiedenis begin,” sê Nel.
Die skool het ‘n paar jaar gelede 5ha grond gekoop en het reeds sportvelde en ook ablusieblokke opgerig op dié perseel.
Nou sal vier tydelike houtklaskamers vir die kleuterskool, nege klaskamers vir die laerskool asook drie kantore opgerig word tydens die skoolvakansie.
Volgens Nel kan permanente geboue eers opgerig word nadat die munisipaliteit die werk aan Akademiestraat voltooi het. Die skool sou eers in Maart volgende jaar met konstruksie kon begin, maar die tydelike klaskamers en kantore kan egter nou reeds in die vakansie opgesit word.
“Die skoolvakansie in Maart is eenvoudig te kort vir hierdie groot taak,” verduidelik sy.
“Elke persoon wil hulle merk maak en ‘n iets nalaat vir ons nageslag. Vir ons hier by Akademie Reformia was die droom nog altyd om ‘n nuwe skool te bou vir ons kinders,” verduidelik Nel.
“Ons is baie opgewonde oor hierdie skuif. Die gemeenskap het ons die laaste 17 jaar wonderlik ondersteun en ek wil graag elke persoon wat bygedra het bedank. Hierdie was werklik ‘n gemeenskapsprojek en dit sou nie moontlik gewees het sonder ons ondersteu-ners nie. Saam werk ons aan ‘n toekoms vir ons nageslag.”
“Daar was baie hoogte- en laagtepunte oor die laaste 17 jaar. Ons moes baie moeilike besluite neem in die verlede, soos om die hoërskool te sluit en te fokus op die laerskool,” vertel sy.
“Van Augustus af het ons planne drasties verander en alles het in plek geval ten spyte van al die uitdagings wat oor ons pad gekom het,” voeg sy by.
“Ons is ‘n reformatoriese skool wat Christelike onderrig toepas en ons sal aanhou met Christelike onderrig wat klem lê op waardes en morele ontwikkeling. Ons is ook geregistreer by die departement van onderwys,” vertel Nel.
Nel is reeds die afgelope 16 jaar deel van Akademie Reformia se personeel. Anelle Haupt, Lana Steyn en Elza Janse van Rensburg is drie onderwysers wat meer as 10 jaar lank by die skool betrokke is.
“Ek dink vir ons vier is dit veral ‘n groot stap en ‘n doelwit wat bereik word,” vertel Nel. “Ons het nog ‘n lang pad om te stap, maar hierdie skuif is verseker die begin van nog baie groot dinge wat gaan gebeur by ons skool,” sê Nel.



