POLOKWANE – Die eerste jaar van hoërskool is dikwels moeilik vir ‘n gr. 8-leerder met baie uitdagings wat hy moet aandurf.
Review gesels met ‘n plaaslike onderwyser om te hoor wat presies die uitdagings is wat ‘n gr. 8-leerder in die oë moet kyk.
Estrelita Harmse het 20 jaar onderwys-ervaring agter die rug in beide laer- en hoërskoolonderrig.
Sy vertel sy het vir 10 jaar by verskillende laerskole gewerk, onder andere by Good Hope Primary School. Daar het sy vir gr. 4- tot 7-leerders wiskunde en lewensoriëntering aangebied.
Tans is sy by Westenburg Sekondêre Skool waar sy besigheidstudies vir gr. 10- tot 12-leerders asook ekonomiese bestuurs-wetenskap en Afrikaans huistaal vir gr. 8- en 9-leerders aanbied.
“Die eerste jaar is vol spanning vir enige gr. 8-leerder,” sê Harmse.
“Die werklading is groter en hulle moet verantwoordelikheid neem vir hul eie werk. Die enigste manier om dit te oorkom is met die hulp van gr. 8-onderwysers. Die onderwysers moet die leerders help om geleidelik hulle voete te vind en hulle lei en leer hoe om verantwoordelikheid vir hul werk te neem.”
Volgens Harmse is dit ook belangrik dat onderwysers van die eerste dag af duidelike grense stel vir die leerders oor wat aanvaarbaar is en wat nie, met vasgestelde gevolge as hulle die grense oortree.
“As daar take of opdragte uitgedeel word met ‘n sperdatum en die leerder kom dit nie na nie, moet hy of sy die gevolge dra,” sê Harmse.
Sy voeg by dat, behalwe vir akademiese druk, gr. 8-leerders ook groepsdruk in die gesig staar.
“Hulle is soms ewe skielik baie gewild en dit kan oorweldigend wees om die nuwe aandag te hanteer. Sommige van die leerders doen sekere dinge soos rook en drink, en doen nie hul huiswerk nie want dit is nie cool om slim te wees nie.
“In baie gevalle doen die leerders dan nie goed in die eerste kwartaal nie en dit kan lei tot depresie. Met ouers se bystand en ondersteuning en onderwysers wat die leerders help met aanpassing en wat van dag een af konstruktief met leerders begin werk, behoort dié probleem maklik oorbrug te word.”



