POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg spog met ‘n broer- en susterspan wat saam 14 onderskeidings behaal het in die gr. 12-eindeksamen.
Tweeling Su-Mari en Biemond Hoogenboezem het beide sewe onderskeidings behaal.
Su-Mari het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, natuur- en skeikunde, rekeningkunde en biologie, terwyl Biemond onderskeidings behaal het in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, natuur- en skeikunde, rekeningkunde en ekonomiese bestuur.
Biemond sê sy gemiddeld is 4% hoër as dié van sy suster, maar dat hulle mekaar deur dik en dun bystaan, maak nie saak wat gebeur nie.
“Deur ons hele skoolloopbaan het ons op mekaar staatgemaak en mekaar bemoedig,” sê hy.
Biemond gaan vanjaar medies studeer aan die Universiteit van Pretoria en wil graag spesialiseer in neurosjirurgie of ortopetiese sjirurgie. Su-Mari gaan veeartsenykunde, ook aan die Universiteit van Pretoria, studeer.
Su-Mari se raad aan vanjaar se gr. 12-leerders is om nooit te glo dat die doelwitte wat jy vir jouself stel onmoontlik is nie.
“Almal kan goeie uitslae behaal, maak nie saak wie jy is nie. As jy hard werk, sal jy die vrugte van jou harde werk pluk.
“As jy jou kant bring, sal God Sy kant ook bring,” sê sy.
Biemond sê deursettingsvermoë en dryfkrag is die geheim van sy sukses. “Jy moet sterk staan in jou geloof en glo dat die Here jou sal lei op die pad wat Hy vir jou beplan het.”
Beide Pieties sê hulle is baie dank verskuldig aan die skool waar hulle hul skoolloopbane voltooi het.
“Ons was geseën by PHS om onderwysers te hê wat nie omgegee het om ekstra hulp aan te bied waar dit nodig was nie.
“Hulle is nie net leermeesters nie, maar stel regtig in elke leerder belang,” sê Su-Mari.
Die tweeling se ma, Hanti, sê sy is baie trots op haar kinders en glo hulle sal ‘n sukses maak van enigiets wat hulle in die toekoms mag aanpak.



