NewsSchools

Ricardo is gereed vir gr. 1

Ricardo Kock sê hy is niks bang vir gr. 1 nie, maar dat hy 'n bietjie bekommerd is oor die wiskundeprobleme wat vir hom voorlê.

POLOKWANE – ‘n Nuwe skooljaar breek môre (Woensdag) aan en duisende haasbekkies sal vanjaar die “grootskool” aandurf wanneer hulle by hul gr. 1-klasse instap.

Ricardo Kock sê hy is niks bang vir gr. 1 nie, maar dat hy ‘n bietjie bekommerd is oor die wiskundeprobleme wat vir hom voorlê.

“Ek hou tog van wiskunde, maar om dit in my kop te kry is ‘n ander saak,” sê hy ernstig en kopskuddend.

“Mens moet huiswerk doen in gr. 1 en mens moet leer om goed te kan wees,” voeg hy by.

Ricardo verduidelik hy was verlede jaar in Werk en Wen Kleuterskool en sal môre by Pietersburg Laerskool instap om daar by die ander nuwe gr. 1’s in te skakel.

Hy sê hy het al baie maats in die kleuterskool gemaak wat saam met hom in gr. 1 gaan wees.

Hy vertel ook dat hy al drie weke lank nie meer ‘n “alleenloper” is nie.

“Haar naam is Zelda en sy is my meisie,” sê hy.

Riekie Liddle, Ricardo se ma, sê hy sal vanjaar eers tennis speel en kan ‘n rugbytrui oor sy kop trek wanneer hy ouer is.

“Tennis is ‘n doeltreffende manier om ‘n kind se fyn-motoriese spierbeheer en oog-handkoördinasie te ontwikkel,” verduidelik Riekie, wat ‘n kleuterskoolonderwyser is.

Sy sê sy kan nie glo haar seun sal vanjaar ‘n gr. 1-leerder wees nie.

Soos vir vele ma’s in die stad, is die prys van skoolklere vir Riekie nogal skrikwekkend.

“Gelukkig dra die jonger leerders nog nie skoene skool toe nie, so dit is darem nog nie nodig vir my om skoene ook te koop nie,” sê sy.

“Ek is opgewonde, maar terselfdertyd ook bang. Ek hoor die huiswerk, veral wiskunde, is ‘n nagmerrie. Ek weet nie wat om te verwag nie,” sê sy.

Ricardo is baie opgewonde oor sy nuwe rooi Ferrari-tas waarin hy sy skoolboeke en skryfbehoeftes gaan ronddra.

Hy het ook ander planne van wat hy in sy skooltas wil saamneem skool toe.

“In gr. 1 moet mens elke dag geld saamvat skool toe sodat jy lekkergoed by die snoepie kan koop,” sê hy.

Vir nou het Ricardo nie duidelike of definitiewe toekomsplanne nie.

“Ek wil na skool net gaan gym,” sê hy met groot bravade.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button