NewsSchools

Akademie Reformia open nuwe perseel

Akademie Reformia het Maandag 'n nuwe hoofstuk in die skool se geskiedenis begin deur die jaar op hulle nuwe perseel te open.

POLOKWANE – Akademie Reformia het Maandag ‘n nuwe hoofstuk in die skool se geskiedenis begin deur die jaar op hulle nuwe perseel te open.

“Ons is baie geseënd. Alles het volgens plan verloop en ons kon, ten spyte van die reën wat die bouwerk moeilik gemaak het, die jaar betyds begin,” het skoolhoof, Marietha Nel, aan Review vertel.

Alhoewel daar nog baie werk is om te doen op die terrein en die kantore nog gebou moet word was Akademie Reformia se leerders van Maandag af reeds aan die werk in die skool se tydelike klaskamers.

Nel het gesê Akademiestraat, vernoem na die skool, word ook tans gebou en behoort voor April klaar geteer te wees. Tot tyd en wyl word ‘n grondpad gebruik.

Die kleuterskool se drie klaskamers het ‘n kleurvolle baadjie aangetrek en is omhein vir die kleuters se veiligheid.

Dan was daar ook tydelike klaskamers opgerig vir die gr. 1- tot 7-leerders.

“Ons het Maandagoggend saam saalopening op die plein gehou en die skooljaar afgeskop,” het Nel vertel.

Dié visie van ‘n nuwe perseel was reeds die afgelope 17 jaar ‘n doelwit vir die skool se beheerliggaam en ook vir Nel.

Die skool het ‘n paar jaar gelede 5ha grond gekoop en het reeds sportvelde en ablusieblokke opgerig op die perseel.

Anelle Haupt, Lana Steyn en Elza Janse van Rensburg is drie onderwysers wat reeds meer as 10 jaar by die skool betrokke was. “Ek dink vir ons vier was dit regtig ‘n groot stap en ‘n doelwit wat bereik is,” het Nel gesê.

‘n Totaal van 140 leerders het Maandag aangetree vir die nuwe skooljaar by Akademie en daar word beoog om uiteindelik 600 laerskoolleerders te akkomodeer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button