POLOKWANE – ‘n Nuwe personeellid is ‘n aanwins vir enige maatskappy, so ook vir ‘n skool soos die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé.
Die skool verwelkom hul nuwe skakelbeampte, Marli Markgraaf.
Marli vertel sy is in Kemptonpark gebore waar sy ook grootgeword het. Na skool het sy by Beeld gaan werk as data-invoerklerk en het bedryfssielkunde deur die pos studeer.
Dié kursus het sy egter nie voltooi nie.
“Voordat ek en my man, Dirk, Polokwane toe verhuis het, het ek by ‘n plek met die naam Red Herring, ‘n fotografie- en grafiese ontwerpbesigheid, gewerk. Hulle het ook ‘n tydskrif gehad met die naam Wine, Food and Cocktails. Ek het in daardie tyd ‘n kursus in grafiese ontwerp gedoen. Toe ek in Polokwane beland, het ek werk by ‘n plaaslike drukkersmaatskappy gekry,” verduidelik sy.
Haar eerste werk, vertel sy, het behels dat hulle die syfers hanteer het van kinders wat vroeg in die oggend koerante gaan aflewer het.
“Ons het elke dag met hulle organiseerders gepraat en die afleweringssyfers in die dataprogram ingevoer.
“In die aande het ek ook telebemarking vir Beeld gedoen.”
Tans is sy die trotse eienaar van Focuz Tydskrif en doen ook vryskut grafiese ontwerp.
“Ek is net ge-koöpteer deur die beheerliggaam van die skool om die skool se bemarking te hanteer. Ek word nie ‘n salaris betaal nie. Ek gaan die snoepie weer op die been bring en fondsinsamelings aanbied,” verduidelik Marli.
Die dinamiese Mev. Polokwane-finalis is ook die ma van drie kinders.
Haar oudste twee, Rudolph (16) en Lucille (13) is leerders van Tom Naudé terwyl Maximus (3) nog ‘n rukkie moet wag voordat hy ook ‘n Tommie kan word.
In haar vrye tyd hou Marli van tuinmaak.
“Ek het ‘n groenttuin om te versorg. Ons is ‘n baie hegte gesin en spandeer baie tyd saam. Ek het ook ‘n passie daarvoor om ou meubels te restoureer.”



