POLOKWANE – Ons lyk nie so dom soos wat ons is nie.
Met sulke uitlatings wat kort-kort tydens Hoërskool Pietersburg (PHS) se Aand van die Sterretjies geuiter is, kon die gehoor skaars op hulle stoele bly soos wat hulle gelag het.
Verlede Donderdag het die skool se gr. 8-leerders die jaarlikse Aand van die Sterretjies-konsert op die planke gebring en hulle is daarna amptelik by PHS ingelyf.
Saturnus-huis het die aand afgeskop met hul unieke weergawe van die gewilde animasiefliek, Despicable Me.
In hierdie weergawe van die storie word die skoolhoof ontvoer en moet die karakters, die minions, hom opspoor en veilig terugbring huistoe.
Tweede aan die beurt was Aarde-huis met hul vertolking van die animasiefliek, The Incredibles.
In hierdie opvoering word arme Kardoesie, die skool se gelukbringerpop, gesteel en moet die superhelde inspring om haar te red.
Daarna het Jupiter-huis ook ‘n interessante kinkel op ‘n gewilde animasiefliek geplaas.
In Rio het hulle die verhaal vertel van Blue wat sy droomvrou se hart probeer wen.
Laaste aan die beurt was Venus-huis wat die storie opgevoer het van Slinky die speelgoedhond wat wegraak in hul weergawe van Toy Story.
Tydens die beoordelaars se oorwegingstyd het PHS-onderwysers ‘n toneelstuk opgevoer waarin hulle storieboekkarakters vertolk het wat op die sielkundige se bank opgeëindig het.
Saturnus-huis is as die wenners van die Aand van die Sterretjies aangewys.



