POLOKWANE – Curro Heuwelkruin se leerders het geskitter tydens hul agtste jaarlikse Mosaïek-konsert verlede Vrydagaand.
Die konsert het om 18:30 op die skool se rugbyveld afgeskop en die Kruinies het, soos gewoonlik, nie teleurgestel nie.
Tydens die konsert het die leerders die verhaal vertel van Tannie Susara, Magriet en Gertie wat ‘n reis deur tyd onderneem het. Tydens hierdie reis het die trio die 1950’s, 60’s, 70’s en 80’s besoek.
Elke graadgroep het ‘n spesifieke dekade voorgestel en selfs die onderwysers het ingespring en hul deel gedoen.
Die 1950’s is deur die gr. 9’s uitgebeeld en hulle het behoorlik geruk en -rol op die maat van goue-oue treffers. Die gr. 10-leerders het die rebelse 1960’s uitgebeeld. Uitgedos in denim, polkakolle en leer het hulle soos wafferse James Deans en Elvis Presleys hul ding op die verhoog gedoen.
Die onderwysers het die protes-era van die 1970’s weer lewe gegee met die musiek van die Rolling Stones en Abba. Die gr. 11’s het die 1980’s uitgebeeld met “groot” hare, uitspattige klere en oulike danspassies. Hulle het op die maat van die musiek van Michael Jackson, Tina Turner en Madonna gedans en selfs kitaarsolo’s gelewer.
Die funk-era van die 1990’s is uitgebeeld deur die gr. 8’s en die klanke van Uptown Funk het selfs die gehoor se tone laat tik op maat van die musiek.
Die Kruinies se gr. 12-groep het die hedendaagse lewe en musiek uitgebeeld en aan die einde van die aand het die hele skool, soos tradisie dit vereis, die aand afgesluit met die liedjie, All for One.
“Dit is tradisie vir ons leerders om elke jaar ‘n vertoning aan te bied. Dit gee aan elke leerder in die skool ‘n geleentheid om saam te werk en uiteindelik ‘n puik produksie te lewer,” het Nicole Senekal, drama-onderwyser en organiseerder van die konsert, gesê.



