POLOKWANE – Op 12 jaar is Morné Henning reeds ‘n sportster wat vele prestasies behaal het.
Hierdie gr. 6-leerder van Laerskool Pietersburg-Oos se prestasies sluit in:
• Erekleure vir landloop in 2012, 2013 en 2014;
• Erekleure vir atletiek in 2014;
• ‘n Eerste plek in die Super12-reeksfinaal in die 1 200 m vir seuns o/11 in 2014;
Morné speel ook rugby, krieket en aksiekrieket, maar sê hy is die trotste op sy aksiekrieketspan, die Polokwane Junior Knights.
Hy vertel dat die Knights net twee weke gehad het om voor te berei vir die interprovinsiale klubkampioenskappe en dat hulle tydens hierdie kompetisie ‘n derde plek behaal het.
Hy is ook aangewys as beste bouler van die toernooi.
Die Polokwane Junior Knights oefen tans onder leiding van afrigters Craig Adoms en Gustav de Beer.
Morné kry ook persoonlike krieketafrigting by Hennie Prinsloo om sy krieketspel te ontwikkel.
“Indien Morné aanhou om so hard te werk aan sy krieketloopbaan, lê daar beslis ‘n rooskleurige toekoms vir hom voor,” sê Prinsloo van hierdie sportster.
Morné sê hy sal graag vir Oosskool se eerste rugby- en krieketspan wil speel vanjaar en beplan om alles in te sit om voor te berei vir die proewe wat later vanjaar sal plaasvind.
Sy sporthelde is Quinton de Kock, die Proteas se openingskolwer, en Dale Steyn, tans die wêreld se beste bouler.
Morné verduidelik dat sy grootste liefde altyd krieket sal wees.
“Wanneer die dag aanbreek waar ek tussen krieket en enige ander sportsoort moet kies, sal ek beslis krieket kies,” sê hy.



