POLOKWANE – Saterdag is Valentynsdag en Review gesels met leerders van Hoërskool Pietersburg oor hoe hulle die perfekte Valentynsdag sal beplan indien geld en tyd nie ‘n opsie is nie.
Die leerders stem saam dat Valentynsdag baie spesiaal is, maar hulle idees van die perfekte dag verskil hemelsbreed.

Andi Venter vertel dat sy graag ‘n spesiale uistappie na die maan wil reël. “Ons gaan piekniek hou op die maan en ek sal sorg dat al my kêrel se gunsteling disse reeds regstaan vir ons. Ons kan op die aarde uitkyk en saam droom oor ons eie planeet.” vertel sy.

Jarred Vogel sê dat sy ideale afspraak begin met ‘n klein bootrit vir hom en sy meisie. Die bootjie vaar na ‘n reuse skip wat met rose van elke soort en kleur versier is.
“Daar sal ‘n orkes wees van vioolspelers wat rustige romantiese musiek gaan speel en ‘n feesmaal gaan regstaan met al die beste en duurste visgeregte. Niks sal te moeilik of te duur wees vir my meisie nie. Ek sal heel moontlik vir haar ‘n hangertjie van witgoud of ander juwele van witgoud gee,” vertel hy.

Herman Joubert verseker Review dat sy meisie net die beste sal kry.
Hy wil haar op ‘n vliegtuigrit oor die Karoo neem net voor sononder.
“Ons sal dan valskermspring tot by ‘n romantiese tafel met die lekkerste disse waarvan sy hou en romantiese musiek in die agtergrond,” vertel hy.

Kgothatso Tsosago vertel dat haar spesiale afspraak vuurwerke insluit.
“Ons sal na Sjina reis en ek sal vuurwerke ontwerp wat ons name uitspel. Ek sal graag vir hom ‘n spesiale ete wil gee en sy geskenk sal ‘n T-hemp wees met ‘n foto van ons twee daarop gedruk,” is haar plan.
Mmathapelo Teka sê dat sy en haar geliefde iewers heen sal vlieg tussen vuurwerke deur wat sy naam sal uitspel.
“Nadat ons teruggekom het, kan ons ‘n spesiale ete geniet wat ek spesiaal vir hom sal maak en dan gaan ek hom na buite neem om na die sterre te kyk. Hy weet net nie dat daar buite vir hom een van die nuutste Mercedes Benz-modelle sal wag nie,” vertel sy.
Tshephiso Modiba wil die liefde in haar lewe bederf met ‘n uitstappie na Mars.
“Ons sal op Mars sit en ek sal vooraf reël dat ons name iewers op die planeet uitgekerf word en dat spesiale satalietfoto’s van ons en ons name op Mars geneem word as ‘n aandenking van ons perfekte afspraak. Ek gaan ook sy eie voertuig vir hom laat ontwerp en dit vir hom gee,” vertel sy.




