NewsSchools

Oepsie Daisy laat kleuters verstom

Kleuters van Klein Begin Kleuterskool op hete kole gesit en wag vir Oepsie Daisy haar opwagting te maak

POLOKWANE – Verlede Vrydag het die kleuters van Klein Begin Kleuterskool op hete kole gesit en wag vir ‘n baie spesiale gas om haar opwagting te maak.

Toe Oepsie Daisy die wetenskaplike uiteindelik haar opwagting maak, het die kleuters gejil van opgewondenheid.

Die kleuters het hulle nekke gerek om beter te kan sien hoe Oepsie Daisy haar eksperimente uitvoer.

Een van hierdie eksperimente het behels dat sy drie bottels vol water met blou kleurstof en olie gemeng het. Die kleuters se monde het oopgehang terwyl hulle met hul eie oë gesien het hoe die blou kleurstof met die water meng, maar die olie bo-op die water bly dryf.

Oepsie Daisy het verduidelik dat water en olie nie kan meng nie. Die kleuters het vinnig begin stry en gesê die olie en die water sal wel meng as mens die bottel hard skud, maar Oepsie Daisy het die bottels geskud en uiteindelik het die olie maar weer bo-op die water gedryf.

Na nog ‘n paar eksperimente was dit tyd vir Oepsie Daisy om huiswaarts te keer en die kleuters het tougestaan om vir haar totsiens te sê met ‘n drukkie of twee.

“Kom more na my huis toe aseblief Oepsie Daisy sodat ek jou weer kan sien,” het een van die kleuters uit die gehoor geskree.

Oepsie Daisy is ‘n karakter wat Klein Begin gebruik om wetenskaplike beginsels aan die kleuters te verduidelik. Sy is gewoonlik een van die skool se onderwysers in ‘n slim vermomming.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button