MOKOPANE – OM ‘n goeie skoolkoerant uit te bring verg lang ure se werk agter die skerms.
Onderhoude word gevoer, foto’s moet geneem word, berigte word op rekenaar getik en dan word die uitleg met tonne kreatiwiteit aangepak. Voeg daarby die bemarking- en advertensiekant en dit is ‘n hele onderneming wat op sy eie bedryf word met inkomste en uitgawes.
Dit was met al die interessante fasette waarmee die redaksiespan van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se skoolkoerant, Die Pottiekaner, verlede Saterdag te doen gekry het tydens die aanbieding van ‘n skoolkoerantkursus.
Hilda van Dyk, ‘n joernalis van ‘n bekende gesinstydskrif, het die kursus in die skoolsaal kom aanbied. Die leerders het vasgenael geluister en aan die einde dit wat hulle geleer het prakties weergegee.
HPP se papparazi is na dese gerat om die nuwe uitdagings voor hulle aan te pak. Hulle is dit eens Die Pottiekaner moet lewendig lyk en lees en ‘n trotse produk van hul skool wees.



