POLOKWANE – Die seuns het skamerig nadergestaan en die meisies het elkeen soos ‘n lieflike lentebloeisel gelyk by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se Valentynssokkie verlede Dinsdag.
Rose wat hier en daar agter die seuns se rûe weggesteek is, is te voorskyn gebring en die gelukkige meisies het hulle rose blosend ontvang.
Andries Wolmarans het benoud die ingang na die skool dopgehou en aan Review verduidelik dat sy metgesel vir die aand nog nie opgedaag het nie. “Sy is nog nie my meisie nie, maar sy is baie mooi. Ek het haar gevra om my Valentyn te wees en sy het ja gesê,” het hy opgewonde vertel.
In die skoolsaal, pragtig getooi in wit, swart en silwer, het Party Shakers vir die musiek gesorg.
Die leerders het gedans, saam gekuier en die aand geniet.



