POLOKWANE – Verlede Vrydag het Laerskool Pietersburg-Oos hul Mnr. en Mej. Valentyn aangewys tydens ‘n vermaaklike seremonie.
Slegs gr. 6-leerders kon aan hierdie kompetisie deelneem en verlede Vrydag het die 10 finaliste mekaar die stryd aangesê.
Die finaliste moes elkeen ‘n vertoning lewer waarin hul met hul talente kon spog.
Wanel Oberholzer het ‘n monoloog gelewer waarin sy die liefde met ‘n potplant bespreek het. Dirkco van Tonder het die toeskouers vermaak met sy sexy hoenderdans.
Zané Steele het ook ‘n dans uitgevoer terwyl Johanco van Niekerk ‘n toespraak gelewer het.
Lea Marx het die hulp van ‘n kitaarspeler, Juanie Willemse van Hoërskool Pietersburg, ingeroep. Juanie het haar begelei terwyl sy gesing het.
Efan Meyer het ‘n humoristiese staaltjie vertel waarna hy vir ‘n meisie in die gehoor ‘n roos gegooi het.
Cari Schulenburg het aan die gehoor verduidelik hoe hulle kon weet of ‘n battery pap is of nie, met skreeusnaakse gevolge.
Steven van Wyngaardt het gewys hoe hy ‘n Suid-Afrikaanse afkondiger by ‘n lughawe perfek kan namaak.
Elke deelnemer moes ook ‘n vraag beantwoord. Vir Dirkco was die perfekte Valentynsdag in Alaska ‘n dag waarop daar geen sneeu in die huis sal wees nie.
Kara van Tonder het vertel sy wou, soos enige ander meisie, sjokolade en teddiebere op Valentynsdag ontvang.
Marco Forrester het gesê hy sal reël dat sy Valentyn die hele rugbyspan se handtekeninge kry nadat hulle saam na ‘n rugbywedstryd gekyk het.
Steven van Wyngaardt is as Mnr. Valentyn aangewys en Wanel Oberholzer as Mej. Valentyn.
Die finaliste is beoordeel op hul voorkoms, netheid, houding, selfvertroue, talent en die antwoorde wat hulle op hul vrae gegee het.
(
)