MOKOPANE – ‘n Groot skerm van 24 vkm op die atletiekveld wat al die aksie van die Bosveld Interhoër vir die toeskouers gaan wys en ook regstreeks op die internet gesien sal kan word, is sover bekend ‘n eerste in die land, sê die organiseerders van die byeenkoms.
Die 24 vkm skerm op Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se sportveld sal verseker dat niemand die aksie en opwinding op die atletiekbaan en veld misloop nie, maak nie saak waar jy ookal op die pawiljoen sit.
Die organiseerders sê sover bekend is dit die eerste keer dat so ‘n skerm in die land by ‘n skool-interhoër opgerig word. Die vier kameras op die veld sal verseker dat niks gemis word nie.
HPP beplan ‘n interhoër-skouspel op Saterdag, 28 Februarie soos wat nog nooit voorheen in Suid-Afrika gesien is nie en wat beloof om mense se asems weg te slaan. “Satsoft gaan sorg vir ‘n internetlyn vir die dag wat ons in staat gaan stel om die hele skouspel lewendig te vertoon. Dit gee diegene wat ver woon of weens werksomstandighede of gesondheidsredes nie die geleentheid kan bywoon nie, die kans om regstreeks te kan deel in al die aksie,” sê die organiseerders wat hard agter die skerms werk om alles eksie perfeksie te kry.
Die aanloop na die 52ste Bosveld interhoër is in volle gang en benewens die atlete wat hard vir oulaas aan die oefen is, sorg die dirigente van die deelnemende skole dat daar goed gees gevang word vir die spog geleentheid.
Hoërskool Piet Potgieter nooi die hele gemeenskap om saam te kom kyk hoe rekords gebreek word en hoe die leerders hulle gô uitsing en gees vang op die pawiljoene. Die atletiekkommentator vir die dag is Altes Schroeder, wat die toeskouers op hoogte sal hou waar gefokus moet word.
Daar sal genoeg wees om die hongerte te stil by al die kosstalletjies. Diegene wat kan help by die kosstalletjies kan van hulle laat hoor. Kontak Anel Smit by (074) 197 2205 of stuur ‘n epos na anel@debtsafe.co.za.



