POLOKWANE – “Met groot genoeë bring ons onder u aandag dat die volgende leerder van u skool, na aflegging van oudisie, gekies is tot lid van Simfonia Juventi. Die orkesbestuur wens u en u skool hartlik geluk.”
Met hierdie woorde het Eben Lingenfelder, hoof van Curro Heuwelkruin, uitgevind dat een van die skool se gr.8-leerders, Stephan de Lange, sy oudisie geslaag het en nou deel was van hierdie elite-koor.
Lingenfelder het aan Review verduidelik dat dit ‘n uitstekende prestasie is en dat die skool baie trots is op Stephan.
Stephan het grootoog vertel dat hy nog nooit in so ‘n groot en beroemde orkes gespeel het nie.
“Ek speel derde-viool. Om vir hierdie posisie in die orkes te kwalifiseer moet mens ten minste die Unisa gr. 5-musiekeksamen geslaag het. Ek het pas my gr.5-eksamen geslaag voordat ek vir die oudisie gegaan het,” het hy verduidelik.
Alhoewel hy aanvanklik sy musiek-loopbaan as blokfluitspeler in gr. 1 begin het, het hy gou besluit dat die viool eintlik die instrument vir hom is. Daarna was daar geen keer aan Stephan se vordering nie.
Lingenfelder het gesê dat, behalwe vir die viool, Stephan ook klavier speel en ‘n kranige sportman is.
“Ek speel hokkie, tennis en krieket. My klavier- en viool-oefentye verskil maar van dag tot dag soos wat dit nodig is. Ek pas alles in my dagprogram in deur goeie beplanning,” het Stephan verduidelik.
Hy het vertel dat hy nie die enigste musikant in die familie is nie. Sy suster, Marisa, speel tjello en sy ma, Sandra, besoek daagliks verskeie skole en kleuterskole en bied daar spesiaal uitgewerkte musiekklasse vir leerders aan.
Stephan se musiekonderwyser is Rentia Venter. Hy was eens lid van die Limpopo Jeugorkes, maar het besluit om eerder sy volle aandag aan sy lesse by Rentia te gee.
Lingenfelder het vertel dat Stephan ‘n besondere leerder is.
“Hy is fenomenaal. Hy is baie oulik en hy het ‘n baie sterk karakter. Hy was verlede jaar die laerskool se hoofseun. Stephan blink uit in musiek, kultuur, sport en akademie. Ek en die res van die skool is geweldig trots op hom.”
Sandra het trots vertel dat sy en haar man, Dirk, baie opgewonde is oor hierdie geleentheid.
“Ons is regtig baie bly vir Stephan. Hy maak ons so trots,” het sy gesê.
Simfonia Juventi, onder leiding van dr. Fanie Jooste, bestaan uit 99 lede. Die orkes sal op 17 en 18 April in Polokwane optree en beplan ook optredes in Modimolle en Mookgophong in Mei.



