POLOKWANE – Werk en Wen Kleuterskool het verlede Vrydag die skool se 15de bestaansjaar gevier met ‘n paar heerlike verjaardagkoeke.
Die kleuters het in klasverband gesmul aan die koeke wat hulle self versier het onder die wakende oë van hul onderwysers.
Monica Strauss, skoolhoof, het met Review gepraat oor die skool se geskiedenis.
“In 1999 het Laerskool Pietersburg ‘n gaping in die pre-primêre onderrig in die stad raakgesien nadat gr. R-onderrig in 1998 in Suid-Afrika ingestel is. In 2000 het Werk en Wen Kleuterskool hul deure oopgemaak en die eerste vrolike voetjies het die terrein betree,” het sy vertel.
Strauss het vertel hoe die kerk wat voorheen op die skool se perseel gestaan het se stilte verbreek is deur die eerste 36 singende, springende en spelende kleuters wat by Werk en Wen ingeskryf is.
“Ek was van die begin af aan die stuur van Werk en Wen en, saam met Liezel Haywood, is ek van die eerste leerkragte wat hier saam begin werk en wen het. Die skool het konstant gegroei en met baie seën en genade is daar vandag sewe klasse en 12 personeellede.
“Ons skool bied ‘n uitstekende opvoedkundige en skoolgereedheidsprogram aan wat deur ‘n baie bekwame span geregistreerde onderwysers aangebied word. Saam maak ons ‘n wenspan.”



