MOKOPANE – DIE Hoërskool Piet Potgieter (HPP) is die onoorwonne interhoërkampioene op die atletiekbaan en pawiljoen na ‘n fenominale sege verlede Saterdag waar Piet Pot met ses ander skole op eie bodem afgereken het.
HPP het tydens die 52ste Bosveld Interhoër op sy atletiekbaan en veld soos verlede jaar met die louere weggestap na ‘n glorieryke dag van skole-atletiek wat nie maklik vergeet gaan word nie.
Dit was nie net die skool se atlete wat die medaljes en bekers ingepalm het nie, maar die sangers het ook die sangbeker gewen.
HPP se interhoër-skouspel het vroegoggend begin met ‘n aangrypende openingseremonie en opkoms van die verskeie skole se dirigente wat die skare vermaak het met die uitbeelding van hul onderskeie temas.
Piet Pot se begeesterde atlete het vandat die eerste skote geklap het, die krane oopgedraai teen Hoërskool Frikkie Meyer, Hoërskool Nylstroom, Hoërskool Ben Viljoen, Hoërskool Hans Strijdom, Hoërskool Ellisras en Hoërskool Warmbad.
Vir skoolhoof Jas Hansen was die interhoër-glorie voordat hy einde vanjaar uittree, die kersie op die koek en ‘n dag “wat ek nooit sal vergeet nie”.
Tydens die openingseremonie is dit bekendgemaak dat die losie op die veld voortaan as die Jas Hansen-losie bekend sal staan.
Die aankondiger, Altus Schroeder, het met sy professionele aanbieding die toeskouers tot die einde vasgenael laat sit, terwyl die groot skerm op die veld heeldag die feesatmosfeer en goeie atletiek vasgevang het.
Meer as 5 000 mense vanoor die wêreld heen, wat lande soos Taiwan, Madagaskar en Australië insluit, het regstreeks op die internet na al die aksie gekyk.
HPP het geseëvier met 660 punte, gevolg deur die Frikkies met 585 punte. Die Nylies was derde met 410 punte en Ben Viljoen vierde met 388 punte, gevolg deur die Hansies (372), Ellisras (316) en Warmbad (264).
Marnus Uys van HPP het gewys hy is in ‘n klas van sy eie nadat hy onder meer ‘n nuwe rekord in die 100 m vir seuns o/17 opgestel het en ook ‘n rekord wat sedert 1970 in die 200 m staan, geëwenaar het.
FOTO’S
Bosveld Interhoër: Openingseremonie
Bosveld InterHoër: Atlete in aksie
Bosveld Interhoër: Dirigente wys hul slag
Bosveld InterHoër: Bekers en die vreugde van ‘n oorwinning



