MOKOPANE – GEKLEE in helder kostuums het die dirigente van die deelnemende skole aan die Bosveld Interhoër vroegoggend die skare vermaak met danspassies en musiek om almal in die regte stemming te kry vir ‘n sportgebeurtenis soos min.
Die 52ste Bosveld Interhoër op Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se atletiekvelde het verlede Saterdag afgeskop met ‘n openingseremonie. Dr. Chris Harris van die N.G. Hulp en Hoop Gemeenskapskerk het die skriflesing en gebed waargeneem waarna skoolhoof, Jas Hansen en Jaco van der Wateren, die interhoërkoördineerder, aan die woord was. Hy het Hansen en Jan Kruger, onderwyser van Piet Pot wat die afgelope 35 jaar betrokke is by die skool se atletiek, bedank. Beide tree die einde van die jaar uit die onderwys. Die losie op die veld is ook amptelik herdoop as die Jas Hansen-losie.
Op die pawiljoene was die skole se sangers netjies in helder T-hemde en met allerhande bykomstighede gereed om hulle gô uit te skreeu en te sing om die sangbeker te verower. Die pawiljoene was gepak met toeskouers van regoor Limpopo wat aan die einde van die byeenkoms nie spyt was hulle het al die pad gekom om die skole-sportbyeenkoms van die jaar saam te beleef nie.
Die atletiek was opwindend en die atlete het als ingesit op ‘n dag waar die weer perfek saamgespeel het na die verwoestende haelbui wat die vorige middag uitgesak het. In die Pierneefsaal en losie is die eregaste heeldag op die heerlikste geregte, happies en drinkgoed getrakteer.
Daar was genoeg om te eet en te drink by die talle stalletjies en ook geleentheid om te kuier en die skool se gasvryheid te ervaar. HPP kan homself op die skouer klop.
Die skool was ‘n uitstekende gasheer met die gemeenskap wat hande gevat en gehelp het. Soos George Klopper, hoof van Hoërskool Hans Strijdom, tereg gesê het “dit gaan moeilik wees om hierdie interhoër te klop”. Die Hansies is aanstaande jaar die gasheer van die 53ste Bosveld Interhoërbyeenkoms.
FOTO’S
Bosveld Interhoër: Openingseremonie
Bosveld InterHoër: Atlete in aksie
Bosveld Interhoër: Dirigente wys hul slag
Bosveld InterHoër: Bekers en die vreugde van ‘n oorwinning



