POLOKWANE – Westenburg Sekondêre Skool se Reik ‘n Lepel van Vriendskap-projek het onlangs 1 000 lepels van Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) ontvang.
Westenburg Sekondêre Skool het onlangs ‘n voedingskema begin, waar hulle tydens pouses vir ongeveer 700 leerders kos gee.
Met genoeg borde het hulle aan Ooskool se deur gaan klop om te hoor of hulle bereid sal wees om lepels te skenk. Oosskool se leerders het saamgespan en binne tien dae 1 000 lepels ingesamel.
Westenburg Sekondêre Skool se waarnemende hoof, Jimmy Steele was baie dankbaar oor die skenking van Ooskool.
“Dis lekker om te sien hoe leerders inspring en help om ‘n verskil in ander leerders se lewens te maak,” het Steele gesê.
Oosskool se waarnemende hoof, Lizette Olivier, het gesê sy was bly dat Ooskool kon help en dat sy trots op haar leerders was.



