POLOKWANE – Vir enige krieketspeler is die ontwerp van die kolf waarmee hy speel baie belangrik. Krieketkolf-ontwerp is ‘n wetenskap wat verskeie estetiese komponente ook in ag neem.
Review gesels met krieketspelers van Laerskool Pietersburg (Suidskool) om te hoor watter materiale hulle sal gebruik om die perfekte krieketkolf te ontwerp.

MC Claassen sê hy sal pragtige sterk geelhout gebruik om sy krieketkolf te ontwerp en dit oortrek met ‘n laag spesiale spons om die slag van die hou te absorbeer en die kolf ekstra slaankrag te gee. Hy sal sy kolf ‘n Speed Bat wil noem.

Kyle Welman stem saam dat geelhout die beste hout sal wees om vir ‘n krieketkolf te gebruik. Hy sal egter nie spons by die hout voeg nie en sy kolf sal Blaster Bat heet.

Cor Muller wyk van die geelhoutplan af en sê hy sal sy ideale krieketkolf van bloekomhout maak en dit ‘n Viper Bat noem.

Japie Wenzel stem nie met Cor saam nie en sê hy sal eerder ook geelhout vir sy krieketkolf gebruik, maar dat aluminium ook kan werk vir ‘n meer moderne kolfontwerp. Hy sal sy kolf Die Spiertier noem.

Kyle Bridger stem saam met die meeste van sy maats dat geelhout goeie materiaal vir ‘n krieketkolf is. Hy sê hy sal geelhout gebruik om die perfekte kolf te ontwerp en ook aan die fisieke ontwerp van die kolf werk om dit meer effektief te maak. Hy sal hierdie kolf ‘n Eco Bat noem.

Karneels Coertze en Lennard Swart sê dis tyd om moderne materiale te gebruik om krieketkolwe te bou. Karneels sê hy sal sy aluminiumkolf Croco Bat noem en Lennard sal sy rubbberkolf ‘n Johnny Bat noem.

Gerhard Greeff verkies ‘n meer tradisionele aanslag wanneer dit kom by kolfontwerp.
Hy sê die heel beste hout vir ‘n krieketkolf bly maar Engelse wilgehout. Gerhard sê sy sal sy spesiaal-ontwerpte krieketkolf die Titan Bat noem.

Tiaan van der Heever stem saam met Gerhard dat Engelse wilgehout die perfekte slaankrag sal gee aan enige krieketkolf. Hy wil sy kolf die Spider Bat noem.



