MOKOPANE – OM vir jou skool se eerstespan rugby te speel is ‘n eer en deel daarvan is om voor ‘n wedstryd in die gesogte rugbykamer reg langs die hoofpawiljoen jou trui oor jou kop te trek.
Dit is ook in hierdie rugbyden waar die manne gees vang en beraadslag met die foto van die Springbok rugbylegende, Johan Williams, wat netjies teen die muur pryk.
Die jong spelers van Piet Pot lag lekker en sê hulle sal darem graag hul foto langs dié van Williams, wat op sy dae hier skoolgegaan het, wil hê.
Die spelers word een vir een na die rugbykamer geroep waar hulle sportsakke en truie uitgedeel word. Kaptein Driekus Kleynhans sê sy span is slaggereed. Rugby is ‘n spansport en daarom is dit belangrik dat almal hul kant op die veld bring.
Vanjaar gaan hulle hul harte uitspeel vir hul skoolhoof, Jas Hansen, wat aan die einde van die jaar aftree. Die spelers het die rugbyseisoen juis aan Hansen, wat ‘n groot liefde vir die spel het, opgedra. Hulle vra die gemeenskap om die span te kom ondersteun.
Die skool sê dankie vir die volgende borge wat help dat al die skool se rugbyspelers vanjaar met trots op die veld kan uitdraf: Tony’s Cash and Carry, MGM Motors, De Heuz, NTT, Renco, Barbarian, Laeveld Agrichem, Amandelgraan, Boschem, Kwikbuild, Modern Motors en die o/16-rugby-ouers.