POLOKWANE – Met Paasfees om die draai en winkels wat hierdie tyd van die jaar vol paaseiers en ander lekkernye in die vorm van hase is, kan ‘n kind nie help om te wonder oor die paashaas nie.
Review gesels met kleuters van Werk en Wen Kleuterskool om uit te vind waar die paashaas woon.

Tinelle Wilken sê sy weet vir ‘n feit dat die paashaas in ‘n gat in die grond woon.
“As jy nie jou kos soet opeet nie, bring hy nie vir jou lekker paaseiers nie,” waarsku sy grootoog.

Caitlyn Jacobs stem saam met Tinelle dat die paashaas in ‘n gat in die grond woon, maar sê hy is baie vriendelik en hou van kinders.
“Hy bring altyd baie lekkergoed en sjokeladehase vir my,” sê sy.

Tristin Cronje dink ook die paashaas woon in ‘n gat in die grond, maar hy weet ook hoe die paashaas lyk.
“Die paashaas is mooi en wit en sag. Hy het ook ‘n mamma en pappa wat ook kan spring en hop, net soos die paashaas,” sê hy.

Kayden van der Merwe sê hy weet nie waar die paashaas woon nie, maar hy weet daar is verseker ‘n paashaas en hy hou baie van hierdie vrygewige haas.
“Ek hou van die paashaas omdat hy vir my sjokolade gee,” sê hy.

Nicky Small is ‘n kenner op die gebied van paashase.
“Die paashaas woon op ‘n plaas. Hy is ‘n geel hasie met spikkels van verskillende kleure,” verduidelik sy.
Nicky weet ook hoe die paashaas te werk gaan om paaseiers te maak.
“Hy vat sjokolade en maak dit fyn deur daarop te trap. Dan rol hy dit in balletjies om die paaseiers te maak.”

De Wet Wilken stem saam met Nicky en sê die paashaas bly op ‘n plaas maar hy stem nie saam oor die paashaas se metodes wanneer dit kom by paaseiers maak nie.
“Die paashaas meng melk en sjokolade om paaseiers te maak. Dan kom steek hy die eiers in my tuin weg sodat ek dit kan soek. Ek het hom al in my tuin gesien,” sê hy.



