MOKGOPHONG – “ELKEEN wat hier sit kan ‘n besluit neem om die beste van sy lewe te maak. Die lewe bring geleenthede en as jy dit nie gryp nie, is dit weg.”
Só het Jannie Putter, bekende sportsielkundige, motiveringspreker en oud-rugbyspeler, gesels tydens die openingseremonie van die Mauritz Hansen Rugbyweek wat Dinsdag afgeskop het.
Die spelers van 78 spanne, hulle afrigters en ouers het op die rugbyveld van Hoërskool Hans Strijdom bymekaargekom vir die begin van die Hansieweek wat vanjaar vir die 23ste keer gehou word.
Die jaarlikse Hansieweek is ‘n groot inspuiting vir Mookgophong se ekonomie. Vakansie-oorde is vol bespreek en die dorp bars uit sy nate met besoekers van heinde en ver.
Putter het as gasspreker die seuns gemotiveer om hul beste te lewer.
“Om die beste te word in die wêreld moet jy ook die beste kan klop. Dit vat bietjie meer as wat iemand anders doen. Soek die moeilike dinge om te bemeester. Ek sien daarna uit om te kyk wie van julle in die toekoms Springbokke gaan word.”
Hy het die spelers daarop gewys om waaksaam te wees vir verkeerde vriende en hul gewaarsku teen drank “wat die vinnigste manier is om jou droom te verloor, so ook losbandige seks en pornografie”.
Die spanne wedywer tot Vrydag om te bepaal wie Saterdag na die eindstryd deurdring. ‘n Toerspan sal ook na afloop van die week aangekondig word, wat in Oktober drie wedstryde in Ierland gaan speel.





