POLOKWANE – Die rolprentbedryf is gróót.
En animasiefilms se aandeel tot lang rye by die fliek kan beslis nie betwyfel word nie as mens kyk na lokettreffers soos Frozen en Planes.
Review het gaan inloer by Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum, waar kleuters heerlik besig gehou is oor die Aprilskoolvakansie.
Wat is die jonges se gunsteling fliek of TV-program?
Die vier- en vyfjarige Osieteddies is aan die beurt.

Hanru Botha vertel dat Bubble Guppies sy gunsteling kykverdryf op televisie is.
Hy vertel dat dit handel oor vissies in die skool en dat hy baie daarvan hou. Sy gunsteling liedjie is Spiderman (Superhero van Eden), maar hy weet nie hoe om dit te sing of daarop te dans nie.

“Bumblebee is my gunsteling fliek want ek hou van hom. Batman (Superhero van Eden) is my gunsteling liedjie. Hy is op my pa se foon,” vertel Nico Botha.

Vir Chloe O’Linsky is Barbie ‘n baie mooi fliek. “Ek het dit al baie gekyk. Barbie is ook my gunsteling liedjie en pienk is my gunsteling kleur,” vertel sy.

Annebelle Kemp vertel met trots dat haar gunsteling fliek Barbie and the Popstar is, want haar pa het dit vir haar gekoop. Ook sy hou van Eden se Superhero-liedjie maar wil nie sommer daarop dans nie.

Johnathan du Toit vertel dat Planes (Fire and Trucks) sy gunsteling fliek is. “Daar is brandweervliegtuige (helikopters) en hulle is rooi. Ek hou baie van hulle.”

Regardt Senekal vertel dat Pickleball Me sy gunsteling is, want die maatjies doen snaakse goed. Sy gunsteling liedjie is ook Superman, Batman (Superhero).

“Superman is my gunsteling fliek en ek wil dit graag hê. Ek hou van vlieg en wil graag vlieg,” vertel Gerrit Pieterse.
“My gunsteling liedjie is Kan Ek Jou Superman wees.”

Aden Uijs se gunsteling fliek is Cars, want, vertel hy, hy hou baie van motors en kyk die fliek sommer gereeld.



