Jou onnutsige ontbyt
'Eet onbyt soos 'n koning, middagete soos 'n prins en aandete soos 'n arm man' - Polokwane dieetkundige Anke van Waveren
POLOKWANE – ‘Eet onbyt soos ‘n koning, middagete soos ‘n prins en aandete soos ‘n arm man.’
Terwyl baie mense ontbyt oorslaan, is dit glad nie ‘n goeie begin vir jou dag nie, sê Polokwane dieetkundige Anke van Waveren.
“Dit is baie belangrik om ontbyt te eet, aangesien dit jou brein en liggaam van brandstowwe voorsien.
“As jy nie tyd het vir ontbyt nie, sit alles wat jy nodig het al reg die vorige aand sodat jy in die oggend net kan sit en eet (5-10 minute) of maak jou gladdejantjie (smoothie) die aand voor die tyd en gryp vinnig die oggend om te drink in die kar op pad werk toe.” ‘n Goeie gebalanseerde ontbyt behoort te bestaan uit ‘n lae GI-styselporsie, lae GI-brood, volgraan ontbyt pap, hawermout en muesli met ‘n laevetproteien soos laevet melk of jogurt, laevet kaas, gekookte eier, of suikervrye grondboontjiebotter om jou liggaam energie te gee vir die hele oggend. Sy stel voor dat jy lae GI-roosterbrood met laevetkaas, suikervrye grondboontjiebotter, of ‘n gekookte eier en ‘n vars vrug eet vir ontbyt, of volgraanontbytpap of hawermout saam met melk of jogurt om jou dag te begin.
‘n Vars vrug of klein bakkie jogurt werk ook goed vir ‘n versnapering tussen etes om bloedsuikervlakke stabiel te hou. Vir kinders is ‘n voedsame ontbyt nog meer belangrik, want dit help met konsentrasie in die klas, sowel as werkverrigting en uithouvermoë. Gewigsbeheer is ook een van die voordele van ontbyt-eet, aangesien lae bloedsuikervlakke nadat ontbyt oorgeslaan is, mens later so honger kan maak dat ongesonde snoeperye met ‘n hoë vet en/of suiker inhoud ‘n groot versoeking word en mens jouself boonop dan gewoonlik ooreet ook.
Dit sal jou totale energie inname vir die dag verhoog, wat die gramme op die skaal laat optel in plaas van val wat nie goed is as jy jou gewig moet dophou nie. Kinders sal ‘n ysie gemaak van vrugte en joghurt ‘n aantreklike opsie vind: Sny vrugte soos kiwivrug, aarbeie en bloubessies dun en meng met laevet vanielje jogurt. Plaas in ‘n roomysvorm (lollie) en sorg dat daar genoeg vrugte aan die buitekant in die vorm is om die ysie, wanneer dit uitgehaal word, kleurvol te laat lyk. Sit oornag in die vrieskas. Ander vrugte en kombinasies soos perske, pynappel en bessies kan ook werk. ‘n Appelbroodjie met gesnyde appelskyfies waarvan die pitte uitgehaal is, gesmeer met grondboontjiebotter en sjokoladestukkies sal moontlk ook in jou kind se smaak val. ‘n Saggekookte eier waarin mens lang roosterbroodstrokies doop, is ook lekker. Druk figuurjies uit roosterbrood en bedek met kaas of grondboontjie botter. Bedien met jogurt en vrugtesap.




