Local NewsNews

Min kalorieë, baie yster in hiérdie Chardonnay

Negentienjarige Chardonnay Nel, het onlangs twee goue medaljes verwerf tydens die Internasionale Federasie van Liggaamsbou en Fiksheid (IFBB) se Millennium Gold Plate Fitness and Bodybuilding kampioenskap.

POLOKWANE – Glad nie te sleg vir ‘n eerste keer nie.

Dit is wat mens kan sê van die negentienjarige Chardonnay Nel, wat onlangs twee goue medaljes verwerf het tydens die Internasionale Federasie van Liggaamsbou en Fiksheid (IFBB) se Millennium Gold Plate Fitness and Bodybuilding kampioenskap wat in Kemptonpark gehou is. Dié toernooi was Chardonnay se eerste deelname aan ‘n kompetisie van dié aard.

Sy het goud verwerf in die kategorie vir vroue (algemeen) asook in die strand bikini kategorie. Haar pad met ‘n gimnasium kom al ver.

Chardonnay vertel dat sy grootgeword het in ‘n gimnasium aangesien haar pa, Basil, ‘n persoonlike afrigter is. “Ek was nog altyd omring deur mense wat ‘n passie het vir liggaamsbou. Ek het hul harde werk en dissipline gesien en dit het my aangetrek.”

Sy vertel dat liggaamsbouers hulle liggame goed oppas. “Hulle leef gesonde leefstyle om vir niemand goed te lyk nie, behalwe hulself,” sê Chardonnay. Sy het in reeds op 13 onder haar pa se wakende oog begin oefen.

Chardonnay oefen vyf maal per week, twee keer per dag. ‘n Gewone oefenroetine bestaan onder meer uit kardio-vaskulêre oefeninge.

Vir die onlangse kampioenskap, erken sy, het sy eers in Januarie begin skouer aan die wiel sit, met slegs 12 weke voorbereidingstyd.

Vir die res van die jaar gaan haar fokus verskuif vanaf kompetisies, sodat sy hoofsaaklik daarop kan fokus om spiere te bou, sê sy.

Haar toekomstige mikpunte is om na die Arnold Classics en Olympia toe te gaan om verder met haar talente te spog. Sy kyk op na Linn Bailey, “omdat sy plat op die aarde is en graag omgee vir diere en minderbevoorregtes”. “Dana het ook die Arnold Classics en Olympia gewen, wat enige liggaambouer se droom is,” sê Chardonnay.

Tussendeur help sy as bestuurder haar pa by die aanvullingswinkel wat hulle by ‘n bekende gimnasium in die stad bedryf.

“As jy wil begin oefen moet jy doelwitte opstel, jy moet altyd gefokus bly op die proses van verbetering en wanneer jy wil opgee, dink aan vyf redes hoekom jy begin oefen het en hoe ver jy reeds gekom het,” sê Chardonnay.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button