Local NewsNews

Hartaanval laat James se lewenspad draai

James van den Bergh was 'n suksesvolle slaghuiseienaar voor 'n hartaanval in 2010 sy lewenspad op 'n ander roete gestuur het.

POLOKWANE – James van den Bergh was ‘n suksesvolle slaghuiseienaar voor ‘n hartaanval in 2010 sy lewenspad op ‘n ander roete gestuur het.

“Ek was in die handelskool en het dus glad nie houtwerk op skool gehad nie. Na my hartaanval het ek eers begin om houtmeubels te restoureer.”

So het ‘n suksesvolvolle kleinonderneming tot stand gekom.

“Ek was van plan om eers net tuinmeubels te maak, maar dit het gou verander en uitgebrei,” vertel James waar ons om die kombuistafel sit en kuier. Oral in en om die huis is houtitems wat James gemaak het.

Sy besigheid se naam is The Furniture Man en word van sy huis af bestuur.

Hy vertel dat hy gewoonlik dennehout of saamgeperste hout gebruik en dat hy sy hout van ‘n saagmeule anderkant Haenertsburg kry.

Hy gaan haal dit ook self met ‘n bakkie en sleepwa. “Een van die grootste projekte wat ek al aangepak het, was ‘n stapelbed wat ek moes maak. Dit het my so drie of vier dae geneem. ‘n Ander groot projek is die skoenekas wat ek gebou het.” Tans is hy besig om ‘n vaat in ‘n kroeg te omskep vir ‘n kliënt in Rustenburg, en James vertel dat dit die moeilikste projek nog was.

James ontwerp sy projekte meestal self, en kry inspirasie so van tyd tot tyd van die internet af.

Hy toets ook eers die mark voor hy ‘n nuwe projek aanpak.

“Piekniektafels is veral gewild. Ek moet juis nou 10 maak vir iemand in die Vrystaat.”

Hy vertel dat dit lekker is om alles te maak wat hy maak en dat die tevredenheid van die kliënte vir hom die lekkerste is. “As dit egter nie vir my vrou, Vicky, se inkomste was nie, sou ons as gesin nie die mas opgekom het nie. Ek is baie dankbaar vir haar.” James kan gekontak word op Facebook by The Furniture Man of by 082 937 7793.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button