NewsSchools

Kinders en die dapper tandemuis

Daar is so iets soos 'n tandemuis, hy vat ons tande en los vir ons geld, so sê gr. 3 leerders van Good Hope Primêre Skool.

POLOKWANE – Daar is so iets soos ‘n tandemuis, hy vat ons tande en los vir ons geld, so sê gr. 3 leerders van Good Hope Primêre Skool.

Die leerders het aan Review verduidelik dat alhoewel die tandemuis vir hulle geld los, is hy nie hulle maatjie nie, want hy byt.

Jovanlee Johnson.
Jovanlee Johnson.

Jovanlee Johnson sê hy het al vier tande vir die tandemuis gelos.

“As ek my tande trek dan sit ek dit in my skoen en dan gaan slaap ek. Jy moet gaan slaap, want die tandemuis gaan nie kom as jy nie gaan slaap nie. Toe los hy vir my R4. Die tandemuis is grys, hy het lang pote met ‘n kort stert, en sy tande staan uit. Maar die muis is nie my vriend nie, want hy byt,” sê Jovanlee.

Chad Sacco.
Chad Sacco.

Chad Sacco stem saam met Jovanlee dat die tandemuis niemand se maatjie is nie.

“Die tandemuis kan nie ons vriend wees nie, want ons kan nie met hom speel nie. Ek het twee van my tande vir die tandemuis gegee. Hy het toe vir my R3 gelos en dis baie geld. Ek het vir my piesangs gekoop met die geld,” sê Chad.

Chamella Marshall.
Chamella Marshall.

Chamella Marshall sê sy het ook twee tande vir die tandemuis gegee.

“Ek het die tande in my skoen gesit en toe kom die muis en vat dit. Hy het vir my R100 gelos,” vertel Chamella.

AJ Willemse.
AJ Willemse.

AJ Willemse sê die tandemuis het vir hom R10 gelos vir sy tande.

“Ek het drie tande vir die tandemuis gegee. Ek het vir my ‘n klomp lekkers gekoop met die geld wat die tandemuis vir my gelos het,” sê AJ.

Cleo-Ann Nagel.
Cleo-Ann Nagel.

Cleo-Ann Nagel sê die tandemuis is grys met lang ore, kort pote en ‘n klein neus.

“Ek het twee van my tande vir die tandemuis gegee en toe los hy vir my R3,” sê Cleo-Ann.

Keanu van der Berg.
Keanu van der Berg.

Keanu van der Berg sê die tandemuis is baie klein, maar het ‘n baie lang stert en lang ore.

George Twala.
George Twala.

George Twala stem nie saam met Keanu nie, hy sê die tandemuis is baie groot.

“Die tandemuis is nie so groot soos ek nie, maar hy is groot. Hy is grys en het ‘n lang stert, met lang ore wat regop staan. Ek het vier tande vir die tandemuis gegee, toe los hy vir my R5. Ek het vir my appels met die geld gekoop. Rooi-appels want dit is my gunsteling,” sê George.

Weyline Jacobs.
Weyline Jacobs.

Weyline Jacobs sê sy glo ook in die tandemuis en stem saam met Keanu dat die tandemuis klein is.

“Hy is baie klein en het klein bruin oë. Sy lyf is grys en hy het ‘n klein ronde pienk neus met lang ore. Ek het my tande getrek en toe sit ek dit in my skoene en die volgende oggend toe ek wakker word het die tandemuis vir my R5 gelos. Ek het vir my slap tjips met baie tamatie sous gekoop,” sê Weyline.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button