NewsSchools

Tom Naudé se 65-jaar vieringe ‘n naweek om te onthou

Die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se 65ste verjaardagvieringe wat onlangs gehou is was 'n geleentheid wat oud-Tommies nie kon bekostig om mis te loop nie.

POLOKWANE – Die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se 65ste verjaardagvieringe wat onlangs gehou is was ‘n geleentheid wat oud-Tommies nie kon bekostig om mis te loop nie.

Die vieringsnaweek is afgeskop met die 22ste aanbieding van die gewilde Kaskarwedrenne, wat hierdie jaar in ‘n reënboog van kleure gehou is en toepaslik ook die Kaskarkaleidoskoop genoem is.

Brute krag, spangees, entoesiasme en die ysere wil om te wen is wat die manne gedryf het tot verre en vinnige afstande.

Volgens die waarnemende skoolhoof, Cois Armer, is uithouvermoë en kameraderie reeds vir 22 jaar al die wenresep vir hierdie suksesvolle fondsinsamelingsprojek.

Skouer-aan-skouer leer onderwysers en kinders mekaar buite die klaskamer ken as deel van die skoolfamilie, deur hard vir die skool te werk.

Dit is ook die skool se leuse – Labor Omnia Vincit.

Armer het sy dank uitgespreek teenoor elke persoon en besigheid wat vanjaar, soos in vorige jare, gesorg het vir ‘n suksesvolle kaskarskouspel.

Gedurende die feesvieringsnaweek, het oud-Tommies die eerste skoolgebou, wat in die weermagbasis geleë is, besoek.

Hier is ou stories en staaltjies gedeel asook goeie tye deur ou vriende herleef.

“Ek was al baie hier by die weermagbasis maar ek het lanklaas my ou vriende en broers gesien en om saam met hulle hier te wees is ‘n groot voorreg,” het Peet Potgieter gesê, wat matriek in 1968 voltooi het en een van vyf broers is wat by Tom Naudé skoolgegaan het.

Die skool het in 1966 na die huidige perseel in Potgieterlaan verskuif.

Verlede Saterdag het die gaste die graf van Jozua François (Tom) Naudé in die Polokwane Natuurreservaat besoek het.

‘n Uithanggeleentheid-gala is die Saterdagaand gehou waartydens die skool se revue ook vir gaste opgevoer is.

Oud-leerder Kobus Nagel het die gaste toegespreek en oud-leerder en nou Tommie-onnie, Carla de Jager, het gaste met sang vermaak.

Beide het gesê dit was ‘n eer om aan die skool te kon skoolgaan.

Eksklusiewe wyne is tydens die loop van die aand opgeveil en sodoende is ‘n stewige R36 000 vir die skool se beurs ingesamel.

Die skool is verder bederf met ‘n getekende gholfhandskoen en foto wat geraam is van die welbekende gholfspeler en oud-Tommie, Retief Goosen, wat van 1982 tot 1986 aan die skool verbonde was, asook ‘n 243 Marlin-geweer, geskenk deur Marlen Industries.

Dié geweer sal deur lootjies opgeveil word.

Memorabilia van Goosen sal aanlyn opgeveil word.

Die skool bedank elke oud-Tommie wat die feesvieringe bygewoon het, vir hul lojaliteit en belangstelling.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button