Triegie-graadeentjies laat hul oë toets
Die gr.1-leerders van Laerskool Louis Trichardt se oë word jaarliks deur die plaaslike oogkundige, Sanrie du Plessis van Spec-Savers getoets.
LOUIS TRICHARDT – Die gr.1-leerders van Laerskool Louis Trichardt se oë word jaarliks deur die plaaslike oogkundige, Sanrie du Plessis van Spec-Savers getoets.
Hierdie toetse word vroeg in die tweede kwartaal gedoen om moontlike probleme vroegtydig te identifiseer.
Die leerders word met ‘n bus na Spec-Savers vervoer waar die personeel, aangetrek soos diere met snaakse brille en handgeverfde prente, vir hulle wag.
Du Plessis laat die leerders op hulle gemak voel en verduidelik dan hoe belangrik sig is, waarna sy hulle opgewonde laat uitsien na die inkleurkompetisie waar ‘n sonbril gewen kan word.
Leerders word eers na die outomatiese oogassesseringstoestel toe geneem vir ‘n lesing waarna hulle na die oogkundige se toetskamer gaan sodat sy kyk of daar enige probleme is.
Die uitslae van die toetse word aan die ouers bekendgemaak.
Gedurende die wag vir die toetse, ontvang die leerders elk ‘n ballon en lekkergoedpakkie om die lang wag bietjie korter te laat voel.
Aan die einde van die dag groet die leerders vriendelik vir ‘dokter Sanrie’ en die personeel van Spec-Savers waarna hulle weer terug na die skool vertrek.





