Trek daai skoene uit en maak ‘n verskil vir behoeftige kinders
Polokwaniërs word uitgedaag om ‘n dag sonder skoene deur te bring vir vanjaar se Kaalvoetdag om self die koue winterweer te beleef soos baie minderbevoorregte kinders dit daagliks moet aandurf.
POLOKWANE – Met die warm somers hier in ons land is dit glad nie vreemd vir kinders om kaalvoet skool toe te gaan nie, maar so warm soos dit hier kan word, kan dit ook net so bytend koud wees in die winter.
Polokwaniërs word uitgedaag om ‘n dag sonder skoene deur te bring vir vanjaar se Kaalvoetdag om self die koue winterweer te beleef soos baie minderbevoorregte kinders dit daagliks moet aandurf.
Pietersburg Maatskaplike Dienste hou vanjaar ‘n Kaalvoetdag as deel van die Winter Warm-projek en daag elke persoon, besigheid en skool uit om op 1 Junie kaalvoet werk toe of skool toe te gaan.
“Die doel is om mense bewus te maak van hoe dit vir ‘n kind voel indien hy of sy nie skoene het om in die winter te dra nie. Al wat ons vra is dat elke mens ‘n paar kinderwinterskoolskoene of skoene skenk, hetsy ‘n splinternuwe paar of ‘n paar wat jy nie meer gebruik nie.
“Só word mense bewusgemaak van die lot van baie kinders regoor die wêreld en stel dit hulle in staat om ‘n verskil in iemand se lewe te maak sonder om noodwendig ‘n sent uit te gee.”
• Blake Mycoskie se kaalvoetstorie is die storie agter Kaalvoetdag. Blake is ‘n Amerikaner wat so aangegryp is deur kinders wat kaalvoet deur die lewe gaan dat hy ‘n skoenmaatskappy gestig het wat vir elke paar skoene wat verkoop word ‘n paar skoene aan ‘n kind sonder skoene skenk. Met hierdie selflose gebaar is daar reeds meer as tien miljoen pare skoene aan kinders regoor die wêreld geskenk.
Houers vir die skoene sal soggens by die kantore van die Pietersburg Maatskaplike Dienste beskikbaar wees waar mense die skoene kan skenk wat aan diegene wat minderbevoorreg as hulle is uitgedeel kan word.
Die adres van Pietersburg Maatskaplike Dienste is Betzstraat 86 in Capricorn.
Hulle kan ook geskakel word by (015) 295 9053.



