En toe is daar twee
'n Baba se koms is vir enige ouer 'n besonderse blye gebeurtenis op hul lewenspad, maar die koms van 'n tweeling sorg vir dubbele vreugde!
POLOKWANE – ‘n Baba se koms is vir enige ouer ‘n besonderse blye gebeurtenis op hul lewenspad, maar die koms van ‘n tweeling sorg vir dubbele vreugde!
Pappa Frank Hislop was die eerste om die tweeling Sophia Drika (Sophia) en Wilson Francis James (Frank) met hul geboorte op 17 Julie te sien. Heel eerste wou hy weet of alles “reg” is. Ma Sophia sou onder spinale verdowing gaan, maar moes uiteindelik onder volle narkose geopereer word tydens die geboorte. Tussendeur die vreugde en trots was Frank deurgaans baie bekommerd oor sy vrou.
“Sophia is na haar twee oumas vernoem wat beide oorlede is en Frank heet na sy oupa,” vertel Sophia.
“Hulle was altwee 41cm lank en Sophia het 2,39kg en haar boetie Frank 2,43kg by geboorte geweeg. Altwee is baie gesonde babas.”
Sophia vertel dat sy gedurende die eerste trimester oggendnaarheid beleef het en dat dit soms moeilik was aangesien daar ook ander kinders is en die gesinslewe nie kon stilstaan nie. “Frank het ongelooflik baie gehelp, veral om die ouer kinders gereed te kry vir skool. Hy het my swangerskap baie maklik gemaak en was definitief die een persoon wat my die meeste ondersteun het.”
Frank voeg by dat hy die dag wat hulle uitgevind het daar is ‘n tweeling op pad nie gou sal vergeet nie.
“Sophia was by die dokter om iets te kry vir haar naarheid toe hulle weer ‘n toets doen. Hulle sien toe daar is twee hartkloppe. Ons het die middag by my ouers gaan kuier en almal was vreeslik opgewonde.”
Sophia se ooievaarstee is by die Pietersburg Klub gehou en sy vertel dat dit ‘n heerlike kuiergeleentheid was.
Die eerste ding wat hulle gekoop het nadat hulle uitgevind het sy is swanger, was klere. Al het hulle reeds ouer kinders, het hulle niks gehad wat vir die nuwe babas sou pas nie. Die tweeling het teddiebere as eerste speelgoed gekry.
“Behalwe vir die oggendnaarheid was dit ‘n maklike swangerskap, al was daar die gewone ongemak van ‘n swanger vrou. Ek het ook daarop gelet dat ek reg eet,” vertel Sophia.
Sophia is ‘n voorstaander van bottelvoeding.
“Bottelmelk is deesdae net so goed soos borsmelk en ek dink elke vrou het ‘n keuse wat sy wil doen. Jou keuse moet respekteer word. Die tweeling was op dag vier al in ‘n roetine met bottelmelk.
“Net na die geboorte het ek ‘n foto van die tweeling vir Sophia gewys. Ek kon onmiddellik sien ons dogtertjie Sophia lyk op ‘n druppel soos haar ma,” sê Frank.
Sophia vertel hulle ander kinders help graag met die tweeling. Daar word bottel vasgehou en gehelp met badtyd en kleinboet vra gereeld waar Frank is as hy net vir Sophia sien of anders om.
“My grootste vrees as ma, met al my kinders, is dat hulle nie veilig sal wees nie. Met die tweeling se geboorte het nie veel in ons huis verander nie, behalwe dat ons nou bietjie minder slaap kry. Die twee, tesame met die ander kinders, is een groot plesier,” straal Sophia.
Frank is vasberade dat hy nooit vir enige van sy kinders gevaarlike speelgoed of motorfietse sal koop nie. “Enige televisiespeletjies wat nie ouderdomsgepas en nie ten bate van hul opvoeding is nie, is ook verbode.”




