Local NewsNews

Mislukte selfmoordpoging: ‘Gee eerste tree en soek hulp’ – Pieterse

Anton Pieterse (39) wat in 2005 in ‘n mislukte selfdoodpoging sy gesig met ‘n jaggeweer weggeskiet het, het Maandag-oggend leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) oor die netelige onderwerp toegespreek. Die skool het Pieterse genader na die onlangse dood van ‘n graad 10-leerder. “Dit vat moed om voor ‘n skool te staan en te weet 1 …

Anton Pieterse (39) wat in 2005 in ‘n mislukte selfdoodpoging sy gesig met ‘n jaggeweer weggeskiet het, het Maandag-oggend leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) oor die netelige onderwerp toegespreek.
Die skool het Pieterse genader na die onlangse dood van ‘n graad 10-leerder.
“Dit vat moed om voor ‘n skool te staan en te weet 1 400 leerders kyk in my ver-minkte gesig vas. Ek sal dit nooit gewoond raak dat mense vir my staar en kinders vir my lag nie,” sê hy.
Pieterse woon tans by sy ma, Alida in Mokopane en het as kind in Standerton, Mpumalanga grootgeword. “Geld was nooit ‘n probleem nie, maar my pa het ‘n drankprobleem gehad wat ‘n groot invloed op my lewe gehad het. As jong seun was hy afwesig in my lewe.”
Op 1 Desember 1998 het sy pa homself geskiet. “Ek het self baie begin drink en het in twee jaar by vier verskillende reservate gewerk omdat ek telkens my werk as gevolg van drankmisbruik verloor het,” sê die jong man wat as wildbewaarder gekwalifiseer is.
Hy het nie besef dat hy aan depressie ly nie omdat alkohol hom tydelik van sy probleme laat vergeet het.
Pieterse het in 2002 na Amerika en daarna na Engeland gereis en gedink dinge sal beter gaan. “Jy kan nie vir jou probleme vlug nie. Ek het teruggekom na Suid-Afrika waar ek by ‘n wildsplaas begin werk het.
Een aand was ek dronk aan diens en het die volgende oggend verslaap. My bestuurder het my wakker gebel en ek het geweet ek is in die moeilikheid. Ek kon nie my familie weer in die oë kyk wetend dat ek ‘n mislukking is nie en het ‘n .458 jaggeweer uitgehaal, een patroon gelaai, die loop onder my ken gedruk en die sneller getrek.”
Hy sê die geweer het vermoedelik vorentoe beweeg toe hy die skoot afgevuur het en sy gesig is vergruis.
Pieterse het 33 rekonstruksie-operasies aan sy gesig ondergaan. “Ek is bitter spyt, maar dit is nou te laat. Ek gaan steeds deur donker dae, maar ontvang nou die regte behandeling,” sê hy.
Hy verduidelik dat iemand wat selfdood oorweeg dae of weke lank daaraan dink tot daar eendag iets gebeur wat die ‘kersie op die koek’ sit en die persoon tot die daad laat oorgaan.
“Dit sit nie elke ou se broek om sy kop te probeer wegskiet nie, maar jy bereik ‘n punt wat niks en niemand saak maak nie en jy blind word vir alles en almal. Leerders word aan soveel negatiwiteit blootgestel dat hulle soms geen toekoms sien nie. Ouers kan maklik sê kinders moet hulle regruk of daaroor kom, maar dit is nie so maklik nie.”
Pieterse glo selfdood is selfsugtig. “Ek het nie net my eie lewe verander nie, maar ook die van my familie en vriende. Hulle moes baie aanpassings vir my maak. Sou my poging geslaag het, was dit steeds nie vir my om my eie lewe te neem en onbeantwoorde vrae agter te laat nie.”
Hy het ‘n beroep op leerders gedoen om hulp te kry. “Daar is kundige mense wat bereid is om die pad saam met jou te stap, maar jy sal die eerste tree moet gee deur hulp te soek.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Foto: ‘n Voor- en na-foto van Anton Pieterse wat in 2005 selfmoord probeer pleeg het deur homself te skiet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button