Inwoner in moeilikheid oor onwettige besit van luislang
‘n Plaaslike inwoner het Dinsdag sy rieme styfgeloop nadat hy ‘n Suid-Afrikaanse rotsluislang sonder die nodige permitte aan ‘n slangvanger wou verkoop. Stigter en direkteur van die South African Reptile Rescue Unit, Zack Zaayman sê die slangvanger, Stefan Stoltz het die eenheid verlede Donderdag van die persoon, wie se identiteit weerhou word omdat hy nog …

‘n Plaaslike inwoner het Dinsdag sy rieme styfgeloop nadat hy ‘n Suid-Afrikaanse rotsluislang sonder die nodige permitte aan ‘n slangvanger wou verkoop.
Stigter en direkteur van die South African Reptile Rescue Unit, Zack Zaayman sê die slangvanger, Stefan Stoltz het die eenheid verlede Donderdag van die persoon, wie se identiteit weerhou word omdat hy nog nie in die hof verskyn het nie, se aanbod ingelig.
“Nadat Stoltz ons geskakel het, het ons dadelik vir fotografiese bewyse wat die spesie bevestig, gevra en die ondersoek geloods. Die slang was glo vir R1 000 te koop,” sê Zaayman.
Hy sê dit is onwettig om reptiele sonder permitte te besit of daarmee handel te dryf. Oortredings is onder die wet op omgewingsbestuur strafbaar.
“Ons het die saak aan die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme (Ledet) oorhandig en hulle het vinnig aan die werk gespring. Frans Chuene, omgewingsbestuurinspekteur van Ledet het Dinsdag laat weet hy is reg om die verdagte se huis te besoek. Die slang is in ‘n hok sonder die nodige verwarmers vir die wintermaande gevind en was om die gloeilamp in die hok gekrul met brandmerke aan sy maag,” sê Zaayman.
Die slang is behandel en dieselfde dag in die natuur vrygelaat. Die verdagte sal vervolg word en kan tot soveel as
R250 000 boete of 15 jaar tronkstraf opgelê word.
Zaayman het Ledet en Stoltz vir hul vinnige optrede en bydrae tot die sukses van die saak bedank.
Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Ledet se omgewingsbestuurinspekteur, Frans Chuene en plaaslike slangvanger, Stefan Stoltz met die Suid-Afrikaanse rotsluislang wat Dinsdag gekonfiskeer is.



