Local NewsNews

Plase onder beleg

Swart op wit mag dit net nog misdaadsyfers blyk te wees, maar TLU-SA se halfjaaroorsig oor geweldsmisdade die afgelope ses maande op plase skets ‘n kommerwekkende prentjie oor die kwesbaarheid van landelike Limpopo. Benewens die knellende droogte en verwante faktore het 30 plaasaanvalle en twee gepaardgaande moorde die plaaslike landbousektor ‘n verdere knou toegedien. Die …

Swart op wit mag dit net nog misdaadsyfers blyk te wees, maar TLU-SA se halfjaaroorsig oor geweldsmisdade die afgelope ses maande op plase skets ‘n kommerwekkende prentjie oor die kwesbaarheid van landelike Limpopo.
Benewens die knellende droogte en verwante faktore het 30 plaasaanvalle en twee gepaardgaande moorde die plaaslike landbousektor ‘n verdere knou toegedien.
Die syfers wat die situasie vir die tydperk vanaf die begin van Januarie vanjaar tot en met 30 Junie 2016 reflekteer, dui op die kwesbaarheid van ‘n sektor van die samelewing wat grotendeels die provinsie se voedselsekuri-teit in hul hand hou. Die syfers is Dinsdagoggend tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria vrygestel.
TLU-SA se statistiek vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar wys op vyf moorde wat die gevolg is van 25 plaasaanvalle in Limpopo alleen. Met verwysing na ‘n ontleding van die algehele syfers het TLU-SA se assistent-hoofbestuurder van beleidskakeling, Chris van Zyl, sy kommer in ‘n onderhoud met Polokwane Observer uitgespreek oor die feit dat Limpopo in ‘n kort tydjie tot bo-aan die lys gevorder het gedurende die Desember-piektyd toe daar 14 aanvalle en vier moorde in die provinsie aangeteken is.
Wat die syfers vir die eerste helfte van 2016 betref, is Limpopo landwyd derde naas Gauteng waar 14 moorde die gevolg van 38 plaasaanvalle was en Noordwes waar vier moorde op 33 plaasaanvalle gevolg het.
In April was daar tien aanvalle op plase in Limpopo, die hoogste tot dusver vanjaar. Die 2015-syfers plaas Limpopo in ‘n tweede plek landwyd, naas die Vrystaat waar 32 plaasaanvalle vier moorde tot gevolg gehad het.
Van Zyl het verwys na ‘n kommerwekkende nasionale syfer van 39 moorde en 185 plaasaanvalle die afgelope ses maande, wat beduidend meer moorde is as verlede jaar se 27 landwyd wat globaal vanjaar ‘n verwagte toename mag toon. In die tydperk is 131 geweldsmisdade op plase aangeteken.
Wanneer die voorkoms van aanvalle in Limpopo met ander provinsies vergelyk word, blyk dit asof voorvalle in Limpopo nie wyd versprei is soos die geval elders nie, maar wel oorspoel uit aangrensende Gauteng, het hy opgesom.
Van Zyl het verder daarop gedui dat die Marble Hall, Groblersdal, Roedtan, Mokopane, Vaalwater-blok ‘n brandpunt is met geïsoleerde voorvalle wat die Lephalale- en Tzaneen-omgewings geteister het. Hul is van mening dat baie potensiële plaaasaanvalle deur goed georganiseerde landboustrukture verhoed word.
In die syfers word Limpopo se plaasmoorde sedert 1990 tot twee weke gelede op 198 gepeil, terwyl 493 aanvalle op plase in dieselfde tydperk uitgevoer is.
Vergelykende syfers van plaasmoorde oor dieselfde tydperk plaas Limpopo in ‘n vyfde plek landwyd, naas Gauteng, KwaZulu-Natal, Noordwes en Mpumalanga, terwyl die provinsie nasionaal vierde is naas Gauteng, Mpumalanga en Noordwes wat aanvalle op plase die afgelope 25 en ‘n half jaar aanbetref.

Storie: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button