Hondsdolheid-behandeling: ‘noodsaaklike maar duur’
Dit is nie iets wat gereeld gebeur nie maar tog hoor mens van kinders en groot mense wat deur honde gebyt is.
POLOKWANE – Alhoewel dit vir party mense algemene kennis is dat die persoon wat gebyt is ‘n klem-in-die-kaak inspuiting asook ‘n reeks hondsdolheidinspuitings moet kry, is daar mense wat dit nie weet nie. Of hulle besef nie altyd die koste daaraan verbonde nie.
Nad ‘n leser Review gekontak het met ‘n versoek om aan ander mense te vertel waarom haar hospitaal rekening bykans R6 000 was nadat haar dogter behandel is vir ‘n hondbyt, het Review verskeie apteke en hospitale gekontak.
“‘n Pasient moet vier dosisse Hondsdolheid entstof kry,” vertel suster Ria Fourie van Dischem Platinum Park.
“Die eerste dosis is sodra die persoon gebyt is, dan weer een drie dae later, asook sewe dae na die voorval. Die laaste dosis word na 14 dae toegedien.”
Volgens ‘n dokter in die stad kos een hondsdolheidinspuiting meer as R700. Voeg by die klem-in-die-kaak inspuiting asook die personeel se arbeid en ondersoek dan is die rekening vreeslik hoog.
“Die hospitaal en dokterpersoneel moet aan die pasient verduidelik dat dit duur, maar noodsaaklike behandeling is. Sodoende sal die pasient nie skrik as hulle skielik met ‘n hemelhoë rekening sit nie,” vertel Istha McMillan, pasientbestuurder by Mediclinic Limpopo.