Bykans 7 000 reeds vasgevat tydens Feestyd-operasies
Die polisie doen hul belofte dat geen misdryf hierdie Feesseisoen geduld sal word nie, gestand met 6 709 verdagtes wat sedert die aanvang van die Veilige Feesseisoen-operasies regoor die provinsie gearresteer is. Die provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo sê dié operasies is reeds op 13 Oktober in aanloop tot die Desembervakansie geloods en goeie …

Die polisie doen hul belofte dat geen misdryf hierdie Feesseisoen geduld sal word nie, gestand met 6 709 verdagtes wat sedert die aanvang van die Veilige Feesseisoen-operasies regoor die provinsie gearresteer is.
Die provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo sê dié operasies is reeds op 13 Oktober in aanloop tot die Desembervakansie geloods en goeie resultate is behaal. Verdagtes is op aanklagte van onder andere moord, verkragting, huis- en besigheidsroof, diefstal, aanranding met die doel om ernstig te beseer, besit van gesteelde goedere en alkoholverwante misdrywe aangekeer.
Verder het die polisie 42 gesteelde voertuie opgespoor, 248 gesteelde of onwettige vuurwapens gevind en op groot hoeveelhede dwelms en dagga sowel as ammunisie beslag gelê.

Mojapelo sê een van dié operasies is Vrydag in Polokwane, Seshego en Mankweng van stapel gestuur en 135 verdagtes het hul rieme styfgeloop. Tydens dié operasie is lede van die polisie se ondersteuningstrukture ingespan om saam met die mans en vroue in blou die stad en omliggende gebiede te fynkam met verskeie padblokkades in en om die stad, waarna lede die strate ingevaar het om mense en voertuie te deursoek.
Mojapelo sê in ander gebiede is soortgelyke operasies gehou en agt verdagtes tussen die ouderdom van 23 en 30 is Vrydag in Tubatse buite Burgersfort op aanklagte van gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens in hegtenis geneem. Twee pistole, ‘n selfoon, twee sakkies dagga, vier sakkies nyaope en twee gesteelde voertuie is gevind.
In Ritavi is twee skurke aangekeer nadat hulle in besit van verskeie gesteelde items gevind is. Die polisie het op onder andere ‘n rewolwer, luidsprekers, ‘n skootrekenaar, ‘n kamera, twee selfone, klere en ‘n BMW wat onlangs in Gauteng gesteel is beslag gelê. In Giyani is twee verdagtes wat vir ‘n reeks gewapende rooftogte gesoek word, aangekeer.
Volgens Mojapelo werp polisie-sigbaarheid vrugte af en dat lede spesialiseenhede soos die honde-eenheid, lugvleuel, speurtak, openbare ordepolisie, operasionele reaksie-eenheid en die sigbare polisie-eenheid aan die operasies deelgeneem het.
Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba het lede vir hul harde werk en toewyding om die provinsie ‘n veilige plek vir inwoners en besoeker te maak, bedank.
“Soos wat die Feesseisoen momentum opbou, is kriminele ook besig om vir eie gewin misdaad te pleeg. Ons moedig mense aan om paraat te wees en te verhoed dat hulle slagoffers word,” sê Ledwaba.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



