Local NewsNews

Bloedige naweek – Moord, kaping, gyselaarsdrama…

Skokgolwe het die naweek deur die stad en omliggende gebiede getrek nadat twee sakemanne in afsonderlike voorvalle vermoor en ‘n derde gekaap en gyselaar gehou is. In ‘n voorval in Polokwane is Bart Smit (37) Saterdagaand koelbloedig in Veldspaatstraaat ten aanskoue van ‘n vriend doodgeskiet. Volgens die polisie se provinsiale kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo, het ‘n …

Skokgolwe het die naweek deur die stad en omliggende gebiede getrek nadat twee sakemanne in afsonderlike voorvalle vermoor en ‘n derde gekaap en gyselaar gehou is.
In ‘n voorval in Polokwane is Bart Smit (37) Saterdagaand koelbloedig in Veldspaatstraaat ten aanskoue van ‘n vriend doodgeskiet.
Volgens die polisie se provinsiale kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo, het ‘n bakkie die pad van voor blokkeer en ‘n silwer Volks­wagen Golf GTI het agter Smit se motor stilgehou. “Smit het glo uit sy voertuig geklim en is deur een van die insittendes van die Golf geskiet voordat beide verdagte voertuie van die toneel weggejaag het.”
“Hy het op die toneel beswyk,” sê Mojapelo.
Die vriend wat saam met hom in die motor was en uit vrees vir sy lewe nie geïdentifiseer wil word nie, sê hulle was deel van ‘n groep vriende wat saam by die rugbywedstryd tussen die Vodacom Bulls en Cell C Sharks op die Peter Mokaba Stadion was. “Na die wedstryd het ek saam met Bart na ‘n kuierplek in Bendor gery en daarna na sy huis in Thornhill Estate. Vandaar het ons besluit om weer na ‘n ander kuierplek op die Louis Trichardtpad te gaan. Op pad soontoe het die voorval naby SAB se brouery in Veldspaatstraat plaasgevind,” sê hy.
Die vriend was nog so geskok oor die voorval dat hy nie in staat was om Maandag terug te keer werk toe nie, maar hy het Dinsdag aan Polokwane Observer gesê hy wil eerder by sy werkplek wees om sy gedagtes van die grugebeure af te lei. “Ek en Bart ken mekaar deur besigheid. Dit was die eerste keer wat ons saam gekuier het. Hy was ‘n goeie mens. Ek kan steeds nie glo wat met hom gebeur het nie.”
Rico Pentz is al 18 jaar lank Smit se beste vriend en praat met lof van hom. “Bart was die tipe mens wat jy enige tyd van die dag of nag kon skakel en hy sou daar wees om te help. Hy het uit sy pad gegaan om ander gelukkig te sien.”
Volgens Pentz laat Smit ‘n broer en suster agter. Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie gefinaliseer nie. Enigiemand met inligting oor die moord kan ondersoekbeampte Moloko Mabitsela by 073 207 5252 skakel.
Drankwinkeleienaar vermoor
In ‘n tweede voorval is die liggaam van Basi Tema, ‘n drankwinkeleienaar, Sondag in Ga-Molepo in Mankweng gevind. Mojapelo sê die voorlopige ondersoek dui daarop dat die 42-jarige Tema Saterdagaand sy winkel gesluit en huis toe gestap het. Sy liggaam is die volgende dag deur ‘n verbyganger gevind en die motief vir die moord word nog deur die polisie ondersoek.
Mense met inligting oor Tema se dood word gevra om ondersoekbeampte Angie Maloma by 082 722 9787 te skakel.
Ontvoering en kaping
In ‘n derde voorval ondersoek die polisie sake van ontvoering en kaping nadat die 24-jarige Vahora Ashif Saterdag deur twee mans, vir wie hy glo ‘n saamrygeleentheid gegee het, hom aangehou en ‘n losprys van R80 000 by sy familie geëis het.
Mojapelo sê Ashif het Saterdag sy winkel­perseel net buite Mokopane verlaat toe twee mans ‘n saamrygeleentheid gevra het. Een het glo Ashif tot in die middel van die bakkie se voorste sitplek met ‘n vuurwapen gedwing voordat hul in die rigting van Mahwelereng gery het.
Die verdagtes het Ashif se familie glo langs die pad geskakel, die losprys geëis en gedreig om hom dood te maak. Die provinsiale polisie se gyselaars- en selfmoordonderhandelaars het dadelik leidrade opgevolg en Ashif se voertuig later die aand in Sandsloot-nedersetting gewaar.
Mojapelo sê die polisie het die bakkie genader, maar die tweede verdagtes het gevlug en Ashif was ongedeerd. Geen losprys is betaal nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button