Verkeersbeampte glo in lokval gelei
‘n Plaaslike provinsiale verkeerspolisiebeampte verbonde aan die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid se anti-korrupsie eenheid is gelukkig om met slegs ‘n paar skraapmerke daarvan af te kom nadat hy Dinsdag glo tydens ‘n jaagtog deur ‘n verdagte voertuig in ‘n lokval in die middestad gelei en aangeval is. Die beampte wat verkies om anoniem te …

‘n Plaaslike provinsiale verkeerspolisiebeampte verbonde aan die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid se anti-korrupsie eenheid is gelukkig om met slegs ‘n paar skraapmerke daarvan af te kom nadat hy Dinsdag glo tydens ‘n jaagtog deur ‘n verdagte voertuig in ‘n lokval in die middestad gelei en aangeval is.
Die beampte wat verkies om anoniem te bly sê hy het in DieMeerstraat gestop waar die GPF glo reeds ‘n verdagte bakkie voorgekeer het. “Dié bakkie is ook deur die departement as ‘n sogenaamde ‘hit squad’ wat gewoonlik by taxigeweld betrokke is, geïdentifiseer. Ek het die bakkie herken en gestop en moeilikheid verwag toe ek ‘n persoon by ‘n swart Volkswagen Golf met ‘n vuurwapen in sy hand sien. Die persoon het in die Golf geklim en gery waarna die bakkie ook in die rigting van Landdros Maréstraat weggejaag het.”
Die beampte het die bakkie agternagesit tot op die hoek van Onder- en Rissikstraat waar hy op die sypaadjie gestop het. “Toe ek langs hom stop het ek gesien die taxi’s het reeds die pad begin versper en mense het op my toegesak en my begin rondstamp. Een het vir my gesê ek moet daar uitkom anders gaan ek seerkry.”
Die beampte het in sy voertuig geklim, maar die groep het hom probeer uitpluk. “Skielik het my voertuig se ruit gebreek en ‘n man met ‘n vuurwapen het by my voertuigdeur aan die bestuurderskant gestaan. Eers nadat ek ‘n skoot afgevuur het, het die groep effens teruggestaan waarna ek die kans gewaag, my voertuig agter gestamp en vorentoe oor ‘n klomp goed gery het om vir my lewe te vlug. Twee skote is afgevuur en my voertuig is met klippe bestook. Ek het ‘n ent verder gestop totdat die polisie oomblikke later opgedaag het,” sê hy.
Die polisie se provinsiale kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



