Local NewsNews

TLU SA ondersteun Ramaphosa se oproep

Die landbou-organisasie TLU SA ondersteun President Cyril Ramaphosa se oproep om Suid-Afrikaans te koop. TLU SA sê in ‘n mediaverklaring dat die president se oproep om Suid-Afrikaans te koop tydens sy tweede staatsrede, nie op ‘n beter tyd kon kom nie. “Ons is werklik opgewonde oor die gedagte dat die Suid-Afrikaanse publiek eg Suid-Afrikaanse produkte …

Die landbou-organisasie TLU SA ondersteun President Cyril Ramaphosa se oproep om Suid-Afrikaans te koop.
TLU SA sê in ‘n mediaverklaring dat die president se oproep om Suid-Afrikaans te koop tydens sy tweede staatsrede, nie op ‘n beter tyd kon kom nie.
“Ons is werklik opgewonde oor die gedagte dat die Suid-Afrikaanse publiek eg Suid-Afrikaanse produkte moet ondersteun,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA. “Veral ons Suid-Afrikaanse landbouprodukte behoort ondersteun te word en verbruikers moet probeer om stortingsprodukte van ander lande te vermy. As ons Suid-Afrikaanse landbouprodukte kan koop, sal dit outomaties werkskepping bevorder terwyl die kommersiële boere daardeur ‘n kans op oorlewing sal hê ten spyte van die veral klimatologiese uitdagings waarmee hulle te doen het,” sê Meintjes.
TLU SA het, net soos Ramaphosa, ‘n droom vir Suid-Afrika, en dit is dat die land kan ontwikkel in ‘n ekonomiese reus, geskoei op vryemarkbeginsels en vry van historiese en ideologiese vooroordele, meen Meintjes.
“Ekonomie en vooruitgang is ‘n toekomsvisie. Helaas is President Ramaphosa se aanvanklike verwysing na die 1913-wetgewing, meer as ‘n eeu gelede, ‘n kyk na die verlede in plaas van ‘n toekomsvisie. Dit kan bots met ‘n toekomsvisie. As alle burgers gelyk gerespekteer moet word, geld dit ook vir die Afrikaners.
“Ons glo ook dat President Ramaphosa nie realisties was in sy visie van twee miljoen werksgeleenthede vir jongmense oor die volgende dekade nie. Sy voorganger se een miljoen het nie eens gerealiseer nie. Om dit te bereik, sal hy moet afsien van rasgebaseerde ekonomiese bemagtiging, en onvriendelike arbeidswetgewing moet aanpas,” verduidelik Meintjes.
“President Ramaphosa se staatsrede het, alhoewel daar nie veel nuuts in was nie, tog van ‘n mate van meer entoesiasme getuig as dié van sy voorganger, maar woorde sal dade moet word, en tot dusver het ANC-regerings meer woorde as dade gebaar, en hierdie regering sal moet wys dat hy daarvan kan afwyk,” sê Meintjes.
“Ons is bereid om hom die voordeel van die twyfel te gee, maar ons het steeds baie twyfel in ons gemoed. Opmerklik is dat President Ramaphosa weereens die geleentheid verpas het om daadwerklike steun aan die landbouers te gee en om plaasmoorde te veroordeel,” voeg hy by.
“Ons kan sy visie vir ‘n hoë-tegno­logie ekonomie ondersteun, maar dan sal hy hom onvoorwaardelik van enige vorm van sosialisme moet distansieer. Daarvoor wag ons nog steeds,” sê Meintjes.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button