Doornkraal Kommando maak smullekker Vorie Smories
Vir Super Snuiter Saterdag is die Doornkraal Voortrekkers tesame met die res van die land se Voortrekkers, uitgedaag om ‘n Vorie Smorie te maak
POLOKWANE – Vir ‘n Voortrekker is daar is min dinge so lekker soos om ‘n Vorie Smorie te maak, veral as dit reeds voor ete geniet kan word.

Smores is ‘n Amerikaanse lekkerny wat net so tuis is op Voortrekkerkampe, met die naam Vorie Smories.
Vir Super Snuiter Saterdag is die Doornkraal Voortrekkers tesame met die res van die land se Voortrekkers, uitgedaag om ‘n Vorie Smorie te maak

“Daar is elke April vakansie ‘n Voortrekkerkamp maar as gevolg van die grendeltydperk het die Voortrekkers hierdie jaar die kamp misgeloop. Gister se uitdaging is gereël sodat hulle darem nie heeltemal elke kamp-aktiwiteit misloop nie,” verduidelik offisier Venita Olivier.

Die opdrag het ‘n basiese resep ingesluit soos om twee Marie-beskuitjies met sjokoladesmeer te smeer en dan ‘n malvalekker op ‘n stokkie te sit en oor die kole te braai. Sodra die malvalekker gesmelt is, sit jy hom op een van die Marie-beskuitjies en druk hom met die ander beskuitjie plat.
Doornkraal Voortrekkers het egter allerhande planne gehad om hulle Vorie Smories meer aantreklik te maak. Daar was paaseiers ingespan terwyl ander ‘n smorie pizza en selfs ‘n smorie dagwood gemaak het. Wanneer daar nie Marie-beskuitjies beskikbaar is nie, word Tennis-beskuitjies en selfs ‘n snytjie brood ingespan.





