Pieter bepleit vir behoud van Afrikaans in Europa
Dié voormalige inwoner breek ‘n lansie vir talle plaaslike kwessies, waar hy in België woon

POLOKWANE – Dit is nie net in Suid-Afrika waar die behoud van Afrikaanse name ‘n sleutelkwessie is onder drukgroepe nie.
In België is ‘n voormalige inwoner, Pieter Bester (23) nie slegs aan die veg vir die behoud van Afrikaanse straat- en pleinname nie, maar ook om vals inligting wat op die webtuiste van die Borgerhout stadsdistrik gepubliseer is, te korrigeer.
Pieter en sy gesin het, toe hy sewe jaar oud was, vanaf Polokwane na Overijse, ‘n dorp net buite Brussel, verhuis.
Alhoewel hy reeds op ‘n baie jong ouderdom sy vaderland verlaat het, het sy ouers hom en sy ouer suster die geskiedenis van Suid-Afrika geleer.
“Hulle het ook dinge in die geskiedenis vir ons uitgebeeld, deur hoe ons geleef het. Al het ek in België grootgeword, is ek steeds in Afrikaans opgevoed.”
Voordat Pieter-hulle verhuis het, was hy deel van die Doornkraal Voortrekkers. Hy onthou sy eerste kamp en hoe lekker dit was.
“Ek het nog steeds die kêppie wat ek toe gekry het en het hom baie gedra terwyl ek ‘n leier was by die Chiro. Die Chiro is ‘n vorm van ‘scouts’, waar ek vir drie jaar lank ‘n leier was. Baie mense in België is nie gelowig nie en dus het die Christelike aspek van hierdie soort jeugbewegings heeltemal verdwyn. Dit is ook nie regtig kultureel of geskiedkundig nie, so dit verskil heelwat van die Voortrekkers.”
Alhoewel Pieter die Voortrekkers baie geniet het, het sy gevoel van burgerskap en dat hy moet veg vir Afrikaans eers regtig in België ontwikkel.
Hy glo kultuur is die fondasie waarop ‘n samelewing gebou is, “dit bepaal die norme, waardes en gewoontes van die samelewing. Taal en geskiedenis is die grond waarop die fondasie van kultuur gebou is”.
Oor die vraag van waarom daar Afrikaanse straat- en pleinname in België is, verduidelik Pieter die Vlaminge in België en Nederlanders in Nederland het die boere in die tweede Vryheidsoorlog ondersteun.
“Die regering in België het Engeland destyds ondersteun om hulle geo-politieke verhouding met dié land te hou. Om hul ondersteuning vir die boere te wys, het baie inwoners en munisipaliteite destyds besluit om die volk se ondersteuning van die boere te wys deur plekke na hulle te vernoem. Daar is strate, pleine en selfs ‘n duin aan die kus van België vernoem na ons generaals, presidente en slagvelde. In Nederland is daar selfs ‘n groot standbeeld van generaal Christiaan de Wet. Die band tussen die Nederlanders, Vlaminge en Afrikaners is ‘n baie ou, en sterk band.”
Die Suid-Afrikaanse geskiedenis is baie kompleks en Pieter sê hy vermoed die politici in België wou guns wen deur die naamsveranderinge.
“Die inwoners van Borgerhout self het nie na vore gekom om die name te verander nie. Dit was alles die regering se inisiatief. En die rede hoekom hulle die name wou verander was omdat name soos De La Rey, De Wet, Botha, Cronjé en Kruger blykbaar ‘n direk verband het met apartheid. Dit is net absurd. Dis vir my duidelik dat daar geen logika was in die naamsverandering nie en dat dit net gedoen was om hulle politiek munt te slaan.”
Alhoewel die stadsvaders besluit het om nie die straat- en pleinname te verander nie, sê Pieter is die stryd nog lank nie gewen nie.
“Die stadsdistrik is van plan om bordjies by die straatname te gaan hang wat ‘n bietjie meer inligting gee oor die straatname. Ek wil seker maak dat die inligting op daardie bordjies ook reg is.”
Pieter sluit af deur te sê dit is belangrik om te weet waar jy vandaan kom.
“Die dinge wat ons het, het ons nie maar net gekry nie, maar geërf van ons voorouers. Ons moet dit onderhou, beskerm en verbeter. Ons is nie net vir onsself gebore nie. Ons volk, ons land, ons vriende en ons familie het almal ‘n deel van ons. En ons ‘n deel van hulle. Ek was baie bevoorreg om hier in België groot te word, maar iets wat min mense verstaan is dat trek nie al ‘n mens se probleme oplos nie. Ja, Suid-Afrika het baie probleme, maar daar is oplossings en nog belangriker: daar is die wil. Hier in Europa het daar sedert die pandemie net krisis na krisis na krisis gekom en alhoewel Europa dit vir nou nog in toom kan hou, is dit nie ‘n volhoubare situasie nie. Daar moet verandering kom maar die burokrasie bemoeilik die proses. Verder sien ek hier nie dieselfde wil as in Suid-Afrika nie. Mense hier verwag nog steeds dat die regering of ander institusies hulle sal red maar, soos ons al lank weet, ‘n volk red homself.”




