Kankerstryd: ‘Ek is bang om dood te gaan’
Dié scenario is 'n werklikheid vir Roxanne Horn (34) wat onlangs met borskanker gediagnoseer is.
POLOKWANE – “Ek is bang. Bang om dood te gaan en dat my kinders dan sonder my moet grootword.”
Dié scenario is ‘n werklikheid vir Roxanne Horn (34) wat onlangs met borskanker gediagnoseer is. “Ek het toevallig een oggend sommer self my borste ondersoek, toe ek die knop voel. Ek is dokter toe, vanwaar ek ‘n mammogramondersoek laat doen het. Die latere biopsie het bevestig, dit is fase drie indringende karsinoon HER-2+ borskanker.”
Roxanne het by haar seun, Tommie (13), se skool stilgehou na ‘n hokkiewedstryd toe die dokter haar skakel met die nuus. Al het sy dit goed probeer wegsteek, het hy besef iets is fout – dis immers nie die eerste keer dat hy en sy sussie, Abigail (15), so ‘n slag toegedien word nie, vertel Roxanne.
Hulle pa, ook Tommie, is in 2011 oorlede nadat hy in 2007 met breinkanker gediagnoseer is. ‘n Jaar vroeër het die kinders hulle oupa aan lewerkanker afgestaan.
“Na die hokkie het ons na hulle ouma se huis gery, nadat ek intussen vir Abi en die res van die familie laat weet het. Teen die tyd dat ons daar opgedaag het, was almal kalm. Ek het ook ‘n derde kind, Vincent wat binnekort 10 jaar oud sal wees.”
Sy vertel braaf van haar ondersteuningstelsel.
“Ek sou nie hierdie uitdaging kon deurmaak sonder my verloofde, Andries de Lange, my kinders, vriende en ander familie.”
Roxanne, wat nie lid is van ‘n mediese fonds nie, is van die staat afhanklik vir behandeling.
“Na die biopsie het ek ‘n verwysingsvorm gekry wat ek na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal moes neem. Die eerste afspraak wat ek by hulle kon kry is vir 19 Oktober. Een van die personeellede daar het vir my gesê ek is gelukkig om so vinnig ‘n afspraak te kry.”
Intussen het Roxanne na die Limpopo Onkologiesentrum gegaan waar bloedtoetse en ‘n CT-skandering gedoen het. By hulle kon sy ‘n afspraak vir 17 Oktober kry, maar sy is aanbeveel om nie haar aanvanklike afspraak te kanselleer nie.
“Ek is nog nie seker wat die behandeling alles gaan behels nie, maar ek gaan alles in my vermoë doen om gesond te word. Daar is Herceptin-behandeling, wat juis vir HER-2+ ontwikkel is, beskikbaar, maar dit kos R15 000 elke drie weke en dit is nie by die staatshospitaal beskikbaar nie.”
Intussen probeer die familie geld insamel vir privaat mediese versorging.
“Andries het vir my gesê hierdie is nie net my geveg nie, maar dat ons saam gaan baklei teen die kanker. Dit klink vreeslik, maar ‘n mens breek jouself om te probeer verstaan. Jy vra heeltyd, hoekom ek?” het sy afgesluit.




