VIDEO: Osies Got Talent met vele hoogtepunte

By 'n skool soos Oosskool is die verskeidenheid talente omvangryk en dus word daar elke jaar 'n talentkompetisie gehou om te bepaal wie hulle talente die beste uitbeeld.

POLOKWANE – Elke mens word met ‘n talent of twee gebore – of dit nou is om ‘n bal oor die rugbypale te skop of eerder om voor mense te praat, talente is volop.

By ‘n skool soos Oosskool is die verskeidenheid talente omvangryk en dus word daar elke jaar ‘n talentkompetisie gehou om te bepaal wie hulle talente die beste uitbeeld.

Osies Got Talent bied die geleentheid vir sangers, instrumentspelers en akteurs om hulle slag op die verhoog te wys. Verlede week het die finaliste wat na vele uitdunrondes gekies is, voor ‘n gehoor opgetree.

Hoofseun Janko Venter en hoofmeisie Mariné van Zyl het die gehoor vermaak met kwinkslae terwyl hulle die deelnemers op die verhoog verwelkom het.

Die Glow Bros, oftewel Ayden Viljoen, Vos en Valken Nel-Fourie, Rayden Espach en Zac Allison, het die gehoor laat skaterlag met hulle glimliguitrustings en lewendige danspassies. Ander dansers het ballet-, akrobaat- en vrydansitems gelewer.

In die sangafdeling het Dianne Lennard en Anne-Lize van Dyk haar eie komposisie, Flenter Jeans, gesing. Daar was ook sangitems deur Annebel Scott en Elsje Pitcher, Elisca Venter wat Better Place gesing het.

Geleentheid vir drama was daar ook met tweeling Jo-Ané en Lisa Pieterse se dramastuk, Slapelose Nagte; Arnich du Toit en Jayden Gouws met Letterlik en Hulle Weet Nie Wat Ons Weet Nie, deur Marius Smit en William Robinson.

In die instrumentale afdeling het Mia Roos klavier gespeel en Keagan Smuts onder andere hulle talent op die klawerbord gewys.

Die personeel het natuurlik ook deelgeneem met Nannette Robinson en Armand Pansegrouw wat Barbie en Ken was. Ursula Botha, Thys Manders en Denja Pretorius het die immergewilde Have You Ever Seen The Rain gesing, begelei deur Dewald Bodenstein. Dewald het ook ‘n solo kitaarvertoning gelewer. Die toneelstuk Huis Spataar het die gehoor laat lê van die lag.

Wenners:
• Drama: Jayden Gouws en Arnich du Toit met Letterlik.
• Instrumente: Keagan Smuts.
• Dans: Rhuné Stander en Karmien Gilfillian.
• Sang: Lu-vé Venter.
• Groep: Glow Bro’s: Zac Allison, Vos Nel, Valken Nel, Raydon Espach en Ayden Viljoen.
• Personeel: Christine Neethling, Sonja Grobler en Antoinette Maritz met Huis Spataar.
• Algehele Wenners: Jayden Gouws en Arnich du Toit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version