Anuska Deyzel is terug by die skool, dankbaar vir die ondersteuning
Anuska Deyzel het 'n gewas, so groot soos 'n tennisbal, op haar breinstam gehad wat tydens 'n operasie van sewe tot agt ure, verwyder is.
POLOKWANE – Anuska Deyzel is ‘n gesonde kind wat goed vaar op skool en gereeld hokkie speel, tot een oggend…
In die laaste week van Julie het sy een oggend opgestaan en van kopseer gekla.
Haar ma, Tanya, het vir haar pynmedikasie gegee en sy het weer gaan slaap.
“Toe sy daar wakker word was sy naar en gedisoriënteerd. Dit was asof sy nie weet waar die middel van haar gesig is nie en sy sou die kos teen haar wang druk in plaas van in haar mond. Dit was hier waar ek besluit het om haar dokter toe te neem.”
Dr. Flippie van As het haar ondersoek en dadelik ‘n afspraak vir haar by die neurosjirurg, dr. Jacques du Plessis in Pretoria gemaak.
“Die dokter het haar ondersoek en bevind daar is ‘n gewas so groot soos ‘n tennisbal op haar breinstam en as hulle haar nie dadelik opereer nie, is haar lewensverwagting 10 dae.”
Die besluit om te opereer was nie moeilik nie en Anuska is in die Life Eugene Marais Hospitaal opgeneem.
Die operasie het op ‘n Sondag plaasgevind en tussen sewe en agt ure geduur. Na die operasie is sy in die volwasse intensiewesorgeenheid opgeneem waar sy vir ‘n week gemonitor was voordat sy na ‘n gewone saal geskuif, en uiteindelik ook ontslaan is.
“Die gewas is ‘n baie raar een en Anuska moes chemoterapie en bestraling ontvang. Gelukkig het sy geen newe-effekte gehad nie, behalwe die hare wat bietjie uitval. Ons moes vir agt weke in Pretoria bly, waar ons net naweke huis toe gekom het. Tussendeur het Anuska op datum met haar skoolwerk gebly.”
Tanya se man, Xander is drie jaar gelede onverwags dood en hulle seun, ook Xander (15), moes byna amper oornag groot word. In die tyd wat sy en Anuska in Pretoria was, was hy by die huis en onder andere vir hulle honde, wat eintlik almal Anuska s’n is, te versorg. Beide sy oumas was behulpsaam en het hom ondersteun.
“Ek was kwaad. Eers my man en nou die ding met my kind. Maar dit is verby. Xander het my deur die tyd gedra. Ek kon met vrymoedigheid huil, hy het my ondersteun.”
Anuska se behandeling is nou voltooi en sy moet oor ‘n paar weke weer vir ‘n MRI-skandering gaan.
Tanya sê daar is nog ‘n stukkie van die gewas aan die breinstam wat nie verwyder kon word sonder geweldige risiko’s nie.
“My grootste bekommernis was daardie ure wat sy in die teater was. Die dokter het my op die ergste voorberei. ‘n Dag of wat nadat sy geopereer is, het die dokters begin om spesifieke soort toetse met haar te doen wat ‘n aanduiding was dat daar nie permanente skade is nie. Sy mag egter geen druk op haar brein gekry het, soos wanneer sy nies of hoes nie.”
Anuska mag eers in 2025 weer haar hokkiestok optel. Intussen kon sy nie wag om terug te gaan skool toe en saam met haar maats te kuier nie. Sy is baie sosiaal en ook lief vir sport.
Anuska het onlangs tydens haar skool se prysuitdeling ‘n spesiale toekenning gekry vir lojaliteit aangesien sy steeds haar hokkiespan getrou ondersteun het, en by die oefeninge of wedstryde langs die veld was.
“Anuska is ‘n rustige kind wie se liefde vir diere duidelik sigbaar is. As sy kon, sou ons nog meer honde gehad het. Ons glo sy is gesond. Dankie ook aan almal wat ons in hierdie tyd gedra het,” het Tanya afgesluit.




