Top 16 plek in DigiToneel-kopetisie vir PHS-leerder
Lohandi Schütte, wat haar skoolloopbaan by Pietersburg Laerskool begin het, is 'n bekende gesig op die skool se verhoog en in sportspanne.

POLOKWANE – Met haar sprankelende persoonlikheid en ‘n passie vir drama het Lohandi Schütte (18), of Landi, soos haar vriende haar ken – ‘n matriekleerder aan Hoërskool Pietersburg – onlangs deurgedring tot die top 16 van die nasionale ATKV DigiToneel-kompetisie.
Landi, wat haar skoolloopbaan by Pietersburg Laerskool begin het, is ‘n bekende gesig op die skool se verhoog en in sportspanne.
Sy sê haar drama-onnie, Marli Oosthuizen, het haar aangemoedig om aan vanjaar se DigiToneel deel te neem – haar heel eerste keer in dié kompetisie.
“Ek gryp elke geleentheid aan om op die verhoog te wees. Al was hierdie keer nie ‘n fisieke verhoog nie, het ek dit net so ernstig opgeneem.”
Die DigiToneel-kompetisie vereis dat deelnemers ‘n oorspronklike monoloog aanbied wat digitaal opgeneem en ingedien word.
Hoewel sy die tegniese aspekte uitdagend gevind het, kon sy staatmaak op die hulp van kameraman Christiaan Gouws en die ondersteuning van haar dramajuffrou.
Die teks, getiteld ‘Gelukkige Niemand’s Land’, is geskryf deur Inamarie Schoonraad.
“Dit was vreemd om voor my foon op te tree, maar ook opwindend om iets nuuts te probeer,” vertel Landi.
Sy het reeds in Desember begin oefen en die video aan die begin van April laat opneem, waarna dit op 9 April ingedien is.
“Ek het nie verwag om so ver te kom nie,” erken sy. “Ek het skaars kans gesien om na my eie video te kyk! Toe ek hoor ek is in die top 16, kon ek net dankie sê – ek glo alles kom van die Here af.”
Landi het haar karakter gebaseer op die ervarings van alledaagse tienermeisies, veral rondom temas soos liggaamsbeeld en verhoudings.
“Ek het gehou van die ‘bratty’ tienerpersoonlikheid wat uiteindelik na vore gekom het,” sê sy laggend.
Benewens drama neem Landi ook deel aan atletiek en hokkie, maar haar grootste liefde bly toneelspel en Afrikaanse voordrag.
Hoewel sy besef dis moeilik om as aktrise bekendheid te verwerf, hou sy vas aan haar geloof en hoop om ‘n toekoms in drama na te volg.
“Ek volg God se plan vir my lewe. Wat ook al Hy in gedagte het, ek is gereed daarvoor.”
